Net 10% van skole het biblioteek

SLEGS 10% van skole in die Oos-Kaap het ’n biblioteek, luidens ’n verklaring wat deur Edmund van Vuuren, die DA se woordvoerder oor onderwys, uitgereik is.

Dit is dus 554 skole, 338 laerskole en 216 hoërskole, uit ’n totaal van 5 270.

Dit is ’n tragedie. Dit het ’n katastrofiese impak op die leerlinge se ontwikkeling en moet ’n groot rol speel in die swak opvoedkundige uitkomste in die provinsie.

“Die swak onderwysstelsel in dié provinsie is een van die oorsake van strukturele armoede wat ons leerlinge se vooruitsigte vir die toekoms kelder,” sê Van Vuuren.

Volgens Mandla Makupula, LUR vir onderwys in die Oos-Kaap is daar verskeie redes waarom sekere skole nog nie biblioteke het nie.

“Die eerste hiervan is omdat infrastruktuur-voorsiening, klaskamers en ablusiegeriewe voorkeur geniet.” Hy sê om die gaping te vul, fokus opvoeders op klaskamerbiblioteke. Hy sê tot dusver in 2018 het 1 430 gr. R-leerlinge leesboeke ontvang en in 2019 sal alle gr. 1-, gr. 2- en gr. 3-leerlinge bloemlesings kry.