Aurora vier 40ste bestaansjaar

GEEN ouer berei hulself voor op die moontlikheid van ’n gestremde kind nie.

Inteendeel, die meeste ouers droom van al die moontlikhede wat hul kind kan bereik, na wie die nuutgebore babatjie gaan lyk en watter beroep hulle gaan volg.

“Ouers van gestremde kinders verloor nie die droom dat hul kind optimaal sal ontwikkel nie, maar dis asof die gemeenskap dit verloor,” sê Riesl Spies, algemene bestuurder van Aurora die dagbreek-sentrum van hoop vir kinders met gestremdhede.

In vroeë Suid-Afrika is kinders as “onderrigbaar” en “opleibaar” gekategoriseer en daarvolgens is bepaal of fondse en fasiliteite beskikbaar was. Wanneer die kind nie onder een van die kategorieë val nie was die antwoord eenvoudig: geen geld of fasiliteite, het Spies verduidelik.

“Soms word die wonderlikste dinge juis gebore in die donkerste tye,” het sy bygevoeg.

Dit was dan ook in die donker tyd in die lewe van Joan Goosen, ’n akademikus, doktorsvrou en ma van twee slim seuns en ’n gestremde dogter, dat sy uit nood vir oorlewing moes soek na iets of iemand wat haar dogter Dalene sal help om optimaal te ontwikkel.

’n Plek waar kinders soos Dalene verstaan word en ook waar gesinne soos die Goosens verstaan en ondersteun word. Dit was in dié tyd dat Joan by Ebba Booth, destydse hoof van Lake Farm-sentrum, gaan aanklop het.

Booth het Joan voorgestel aan Peggy Cathro, ’n jong Amerikaanse kleuter-juffrou wat met ses kindertjies begin het.

’n Fasiliteit was dringend nodig en die destydse Claredon-kleuterskool sou moes doen.

Dit was ’n reuse taak om die normale kleuterskool-geriewe in te rig waar gestremde kinders veilig versorg kon word. In 1978 is die taak voltooi en Aurora die dagbreek- sentrum van hoop vir kinders met gestremdhede is gestig, waarvan Cathro die eerste en enigste werknemer was.

“Fondse was uiters skaars en die spannetjie vrywilligers het almal gefokus gewerk met een doel voor oë: om ’n groter volhoubare fasiliteit te skep,” het Spies vertel.

Binne twee jaar het die komitee as vrywilligers genoeg geld ingesamel om uit te brei na ’n huis in Newtonpark.

“Vandaar het die groep vrywilligers en ruim-hartige donateurs uitgebrei en kon ons 20 jaar gelede ons huidige perseel bekom om ’n groter diens te kon lewer aan die Oos-Kaapse gemeenskap.”

Aurora het in die afgelope 40 jaar sy kleuterskoene behoorlik ontgroei. Vandag bestaan die sentrum uit ’n stimulasiesentrum met agt klasse, ’n terapiesentrum wat ’n warmwater-swembad insluit, sensoriese kamers, ’n residensiële fasiliteit met kamers vir 37 inwoners en ’n huis met 15 kamers waar bystandsondersteuning gelewer word vir ligter gestremde persone.

“Ons is ook trots om te noem dat ons tydens ons 40ste bestaansjaar ook ’n spesiale afdeling geopen het met die naam Peggy House waar ons ouer gestremde persone huisves. Ons oudste inwoner is 96 jaar oud,” het Spies gesê.

“As dit nie was vir donasies en harde toegewyde vrywilligers nie, kon ons nie voortbestaan nie. Aurora se potensiaal is nog lank nie bereik nie. Ons moedig ons gemeenskap aan om betrokke te raak en te help skryf aan Aurora se sukses storie. Solank die dag breek is daar hoop, Aurora!”