DIE Bet-El Christelike Akademie is baie trots op hul Groenhande se tweede plek in ’n herwinningsprojek wat hulle hierdie kwartaal losgeslaan het.
Die Waste Trade Company hou kwartaalliks ’n kompetisie om te bepaal watter skool die meeste herwinning per leerder insamel.
“Ek is ongelooflik trots op ons Groenhande leerders. Dit is ure se harde werk wat eindelik beloon word,” het Marike Röth, onderwyseres aan BECA sowel as stigter en koördineerder van Groenhande, gesê.
Groenhande beplan om ’n beloningsuitstappie te hou met van die prysgeld. Die res word aan die skool se laboratorium geskenk.
“Groenhande is nie alleenlik gestig met die doel om na ons omgewing te kyk nie, maar ook as ’n wyse om geld in te samel vir ons laboratorium. As fisiese - en lewenswetenskappe onderwyseres van die skool is dit vir my van kardinale belang om die nodige chemikalieë en apparaat te hê om die leerders praktiese vaardighede aan te leer en die nodige blootstelling te gee aan my vakke om ’n liefde daarvoor te skep,” het Röth bygevoeg.