Share

Jeremy wou al op 8 omroeper word

Op agtjarige ouderdom het Jeremy Fredericks van Plumstead al geweet dat hy eendag ’n omroeper gaan word nadat hy vir wyle Gerhard Viviers rugby en Charles Fortune krieket oor die radio hoor uitsaai het.

Hy moes lank wag dat dit gebeur en is nou nie net ’n omroeper nie, maar is al meer as 20 jaar ’n televisie-aanbieder op Supersport.

Boonop is hy so pas aangewys as die spanbestuurder van die SA se A-krieketspan na Indië, nog iets wat op sy wenslysie was.

“Destyds was poste as omroepers nie vir ons nie, maar ek het besluit dis wat ek wil doen. Ek het vir Gerhard en Charles by skoolkonserte of net waar ek ’n gehoor gehad het, nageaap en my wedstryde “uitgesaai” tot die vermaak van ander. Nadat ek my skoolopleiding voltooi het, het ek onderwys gaan swot, want ek kon my enkelma geldelik help,” het hy gesê.

Trevor Quirk het hom sy kans as omroeper by die SAUK gegee.

“In 1998 moes ek ’n stemtoets by Edward Griffiths by die SAUK in Johannesburg aflê en hy het gesê my Engels is te Brits om by die SAUK te werk.

Gelukkig het Trevor my die kans gegee en ek saai nou nog uit,” skerts hy.

Jeremy was altyd betrokke by krieket en het onder wyle Bob Woolmer, sy afrigter en kaptein by Avendale, krieket gespeel. Bert Erikson is die ander persoon wat ’n groot rol in sy krieketloopbaan gespeel het.

“Ek het in Houtbaai grootgeword waar my ma, Alma, 50 jaar die huiswerker by ’n Joodse gesin was. Sy het in al my behoeftes voorsien en vandag is sy 83 jaar oud en nou versorg ek haar. Ek het my skoolloopbaan begin by die Laerskool St. Augustine in Wittebome, Claremont, en is toe kosskool toe na die Hoërskool Emil Weder op Genadendal,” het hy gesê.

As tjokkertjie het hy op Nuweland gewerk deur papiere op te tel net om deel van die atmosfeer te wees.

“Arthur Turner van die WP-krieketvereniging het my gevra om van 1992 tot 1994 op die Vrystaat se raad te dien. Daarna is ek vir drie jaar na die Vrystaat om daar te dien. Ek het terug Kaap toe gekeer en ’n onderwyspos by die Laerskool Sunnyside in Athlone aanvaar.

“Van 1996 tot 2001 was ek verbonde aan die Griekwa-krieketvereniging totdat ek in 1998 tot op hede by Supersport as omroeper/anker begin werk het. Ek het ook op die rade van Gauteng en die Cape Cobras gedien en is nou op Boland-krieket se bestuur,” het Jeremy gesê.

Deur die jare het hy groot krieketspelers vir Suid-Afrika sien kolf en die spelers wat groot indruk op hom gemaak het, was Peter Kirsten (kolfwerk), Jacques Kallis (kolf- en boulwerk), Ashwill Prince (sy vegtersbeurte), Dale Steyn en nou Kagiso Rabada vir hul boulwerk.

“My nuwe droom is om eendag die spanbestuurder van die Proteas te wees en sodra die pos geadverteer word, sal ek daarvoor aansoek doen, soos nou met die SA A-span.

Ek het nie verwag om nou die spanbestuurder te wees nie, maar dis vir my ’n groot eer, ’n goeie uitdaging en my eerste tree na die bestuurderspos van die Proteas,” het Jeremy gesê.

Volgens hom het hy nou al alles bereik in krieket en hy sien daarna uit om vandeesweek die paadjie met spelers soos Beuren Hendricks, Dane Piedt en Dwayne Olivier, lede van die SA A-span, te loop.

As hy die kans kry om vier mense vir ’n gesellige aandete uit te nooi, sal dit prof. Jonathan Jansen, Barack Obama, Cyril Ramaphosa en die Arch wees.

“Ons sal al die wêreld se probleme oplos en aartsbiskop Tutu sal met sy goeie humorsin sorg dat daar baie gelag gaan word en hoewel die ander drie baie positief is, het die Arch sy lewe lank vir geregtigheid baklei. As Madiba nog geleef het, sou hy ook een van my tafelgenote gewees het,” het hy gesê.

Jeremy voel dat T20-wedstryde nie deel van die krieketkalender moet wees nie, maar dat toetskrieket ’n moet is.

“Toetskrieket hou jou nederig en toets jou breinkrag, talent en passie en kyk hoe sterk jy is. Jy kan liewer in ’n toernooi soos die Indiese Premierliga speel pleks van T20, want die krieketkalender laat dit nie toe nie,” het hy gesê.

Op sy wenslysie is om nog eendag die gholf op Augusta te gaan kyk, ’n rugbytoets tussen die Springbokke en die All Blacks op Edenpark in Auckland by te woon en om sy droomprinses te ontmoet.

“My gunstelingkrieketvelde is Nuweland en Lords in Engeland, waar ek al vier keer toetskrieket gaan uitsaai of kyk het. Ek het nie ander stokperdjies nie, want ek eet, slaap en leef krieket, maar ek sien nou uit na die toer in Indië,” het Jeremy gesê.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 116 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 244 votes
Vote
Rand - Dollar
19.20
-0.2%
Rand - Pound
23.88
-0.2%
Rand - Euro
20.43
-0.2%
Rand - Aus dollar
12.31
-0.0%
Rand - Yen
0.12
-0.4%
Platinum
952.10
+0.2%
Palladium
1,026.50
-0.3%
Gold
2,381.27
+0.1%
Silver
28.33
+0.3%
Brent Crude
87.11
-0.2%
Top 40
67,190
0.0%
All Share
73,271
0.0%
Resource 10
63,297
0.0%
Industrial 25
98,419
0.0%
Financial 15
15,480
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE