Abrie en Sarah Spies – afgetree maar nie uitgetree


Die gebeurtenis wat mense aan die Suidkus jare lank al verwag het, maar nie gelyk het of dit ooit sou realiseer nie, het nou gebeur. Abrie en Sarah Spies, wat met reg beskou kan word as Suidkus-pioniers, inderwaarheid veterane, het afgetree. Die eiendoms-en verhurings-onderneming wat hulle veertig jaar gelede gestig en tot aan die einde van Junie bestuur het, het saamgesmelt met Just Properties in Uvongo, en die egpaar het skielik baie vrye tyd.

Die 91-Jarige Abrie erken self hy gaan moeilik hieraan gewoond raak, en Sarah ( 84 ) sê hoewel dit vir haar ook ‘n heel nuwe era inlui, besef sy dit was die regte besluit. Sy hou haar besig met ander dinge, en het reeds weer begin aktiwiteite soos naaldwerk en brei. Sarah, wat ook jare jonger lyk as haar ouderdom, is ook betrokke by verskeie groepe wat hulp in die gemeenskap verleen, onder meer by die NK Kerk in Margate. “’n Mens besef nie jy word oud nie.

Ons is sedert 1964 hier op die Suidkus, en het ons onderneming met groot toewyding bestuur. Maar die tyd het gekom dat ons halt roep. Jy begin besef dis tyd wanneer jou kinders en mense baie jonger as jy aftree en vra ‘waarom werk julle nog?’” Sy glo egter nie Abrie is baie lus vir aftrede nie.

Abrie beaam dit, en geoordeel aan sy lyftaal sou hy maklik nog aanhou werk het. Hy geniet steeds algemene goeie gesondheid, hoewel hy ‘n skeet of twee het. “Wat ek die meeste mis, is my gholf. Jy weet, en het eers op sestigjarige leeftyd begin speel, maar moes onlangs om gesondheidsredes ophou.” Waarmee hy hom nou gaan besig hou, het hy nie duidelik uitgespel nie, maar wat hy en Sarah wel gaan doen is om ‘n paar ure per dag deur te bring in ‘n gesellige ‘kuierkantoor’ wat hulle spesiaal ingerig het in dieselfde gebou, wat hul eiendom is, reg langs hul vorige onderneming. Die naam Abrie Spies in nog buite sigbaar, sodat mense hulle kan besoek of net inloer vir ‘n koppie koffie of tee. Dit maak sin dat hulle nog bereikbaar sal wees, want oor die jare heen het die egpaar, hoofsaaklik as gevolg van die aard van hul onderneming, met duisende mense van oor die hele land kennis gemaak, en het hulle hier ook talle kennisse en vriende. Hulle het saam diep spore in die geskiedenis en gebeure van die Suidkus getrap, nadat Abrie vroeër eers op Hibberdene geboer het, en hy elders in die destydse Natal intens by politieke en kultuursake betrokke was. Sy bydrae oor die afgelope 50 jaar was geweldig groot, in kultuur-, politieke, kerk- en gemeensapsake. Hy was bv. onder meer die hoof-dryfveer agter die stigting van die Hoërskool Suid-Natal.

As hy nou kommentaar lewer op sy lewe, sou dit bloot wees “om baie dankie te sê aan die Groot Vader vir die vermoë, gesondheid en geleenthede wat my gegun is om te doen wat ek gedoen het. Ek het veral omgegee vir my eie mense.” Sarah se kommentaar is basies dieselfde as Abrie s’n. “Maar ek is veral dankbaar dat ons 64 jaar lank gelukkig getroud is, en nooit een aand kwaad vir mekaar gaan slaap het nie.” Sarah verklap egter ‘n tikkie hartseer en weemoed….. hulle het vier kinders, drie seuns en ‘n dogter, maar van die klein- en agterkleinkinders woon in die buiteland, en hulle verlang baie.

Hul resep vir ‘n lang en gesonde lewe? “Gewone boerekos, eet net waarvoor jy lus het, maar met matigheid, en volg ‘n gesonde lewenswyse.” Drink hy darem ‘n dop? “O ja”, antwoord Abrie, ‘so ‘n klein bietjie whisky”, en hy beduie met sy vingers teen ‘n plastiek-koppie, “saam met limonade.” “Hy eet egter vreeslik baie sjokolade,” voeg Sarah by. “Veral diè met rosyntjies in……goed vir die spysvertering” verduidelik Abrie.

Albei van hulle kom uit families met mense wat baie oud geword het. Die Fever hoop dieselfde gebeur ook met hulle, en wens hulle ‘n genotvolle aftrede toe. Uittrede? Nee. Abrie sal daarvoor sorg.