‘Gekkegoud’: Presies wat die naam beteken

TYDENS ‘n besoek aan Harding verlede week het ek kennis gemaak met van die mense wat sowat ‘n maand gelede op ‘n gebied in KwaMachi toegesak en begin grawe het op soek na goud.

Talle inwoners het ‘goud-delwers’ geword toe konstruksiewerkers wat gate gegrawe het om gruis te uit te haal vir gebruik op paaie, afgekom het op stukke erts wat soos goud gelyk het. Dit het ‘n paar dae lank ‘n erge ‘goudkoors’ veroorsaak en honderde mense het op die gebied toegesak met die hoop om gou ryk te word.

Kinders het van hul skole af weggebly om deel te neem aan die koorsagtige soektog na goud en vinnige rykdom.

Van die mense se lewens is in gevaar gestel omdat van hulle gereeld deur kantelende rotse beseer is.

Die situasie het later hande uitgeruk en die provinsiale regering het die grawery verbied en doringdraad om die perseel gespan.

Monsters is na geoloë van die Departement van Mineralebronne gestuur vir ontleding om te bepaal of daar enige rede is om op KwaMachi vir goud te delf.

Die uitslag word oor sowat ‘n maand of twee verwag.

Waarom word dit ‘gekkegoud genoem?’ Presies wat die naam beteken: Dit maak van mense gekke. Want hulle kom af op hierdie blink materiaal, wat baie soos goud-erts lyk en naby goud in mineraal-neerslae gevind word, en aanvaar hulle is skielik ryk.

Wat hulle so opgewonde maak is inderwaarheid piriet, ‘n yster-sulfaat met die formule FeS2, wat gevind word sedimentêre rots, in steenkool-neerslae en kwarts-‘are’.

Dit kom ook in fossiele voor, en van hierdie fossiele is buitengwoon mooi. Piriet word gebruik as ‘n kommersiële bron van swael-dioksied, wat in die vervaardiging van papier en ander nywerhede gebruik word.

Dis ook ‘n bestanddeel van yster-sulfaat en word gebruik in die produksie van herlaaibare litium-batterye. Vroeër jare is dit ook gebruik as ‘n vuursteen in vuurwapens en kanonne, want indien piriet en staal teen mekaar stamp, spat die vonke.

Talle gekkegoud-voorvalle het gereeld tydens die goud-stormloop in die ou Weste van Amerika plaasgevind. Baie delwers het afgekom op hierdie donker metaalkleurige kopergeel erts wat feitlik nes goud-erts lyk, wavragte vol na handelaars gekarwei net om uit te vind dis feitlik niks werd nie.

Sover bekend was die eerste bekende ‘gek’ in die geskiedenis ene Sir Martin Frobisher, ‘n Brit wat die eerste mynbedrywighede in Kanada begin het.

Hy was redelik opgewonde oor die blink rotse wat hy by die eiland Kodlunarn gevind het.

Hy het mense in Brittanje vertel, hulle het belang gestel, hom geld gegee vir nog ‘n reis en in 1577 het hy na Kanada teruggekeer, en twee honderd ton erts teruggeneem Engeland toe.

Die Engelse Koningin was so beïndruk met sy vonds, dat sy hom met nog meer geld in 1578 teruggestuur het. In Julie en Augustus daardie jaar het hy 1 400 metrieke ton piriet teruggestuur Engeland toe.

Van die besending het weens skeepsinkings verlore gegaan, maar die res het die smelters in Dartford bereik. Daar is uitgevind sy pragtige donkergeel ‘goud-erts’ was niks anders as piriet nie met ander minerale, onder meer mika, wat dit laat blink het.

Die goeie nuus was daar was wel ‘n minimale hoeveelheid egte goud in die besending, en die ander rotse is vir gruis op paaie gebruik.

Later was daar soortgelyke gevalle: ‘n Sekere kaptein Christopher Newport het enkele jare later uit Jamestrown in Amerika met 1 100 ton in Engeland aangekom.

Dit was niks anders as piriet nie. Dieselfde het gebeur met Jacques Cartier omstreeks 1700, en hy was baie tevrede met sy skeepsvrag ‘goud-erts’ waarmee hy uit Kanada terug is Frankryk toe.

‘n Mens kan jou net voorstel watter skade aan sy reputasie gedoen is toe die kenners vasgestel het sy vrag is niks anders as kwarts en piriet nie. Daar was verskeie ander minder-belangrike voorvalle, maar ‘gekkegoud’ het sy merk in die geskiedenis gemaak. Ook vroeër jare in Suid-Afrika.

Maar wie weet. Dalk, net dalk, is die mense van Harding gelukkiger as bg. individue.

Die uitslag van die toetse word met groot belangstelling afgewag.