Naguilklub, ’n “inspirasie-stasie”

DIE webwerf Afrikaans.com se jongste bydrae aan die South Coast Fever is die volgende:

Om ’n ouer te wees, is nie aldag maklik nie en daar is ook nie ’n allesomvattende Ouerskap 101-kursus waar ’n mens kan leer hoe om die “perfekte” ouer te wees nie.

Soms kry ’n mens dit reg en soms moet jy maar erken dat jy die keer nie die paal gehaal het nie en dan moet jy oor begin. Wat baie help, is as ’n mens jou “smarte” en vreugdes met ander kan deel en kan kers opsteek by diegene wat die resep vervolmaak het. Een so ’n plek waar jy as ouer kan saamgesels, is die Nagu.

WIE IS DIE NAGUILKLUB?

Lente Swift van die Naguilklub sê hulle is ’n “digital village” en inspirasie-stasie waar ouers (ma’s én pa’s) hulle stories en staaltjies kan uitruil om nie net by mekaar te leer nie, maar ook om minder alleen en miskien ‘n bietjie meer normaal, te kan voel. Die klub het ontstaan nadat vier verskillende ma’s, elkeen met haar eie unieke perspektief en lewensuitkyk, ongefilterd met mekaar begin gesels het oor ouerskap en die uitdagings, vreugdes en vrae wat daarmee saamgaan.

“Wat begin het by Whatsapp-geselsies tydens middernagtelike ‘pyjama-drills’, het genadiglik ook oorgeskakel na meer beskaafde middel-van-die-dag-gesprekke.

Die spasie het ‘n oase geword – al die pad van Pretoria tot in die Kaap. Ons het vinnig besef dat hierdie behoefte van ons universeel is vir alle ouers. Dit was tyd om almal in te nooi om saam te kom gesels.” Die Naguilklub nooi alle belangstellendes en ouers wat net weer “normaal” wil voel om enige tyd op Facebook en Instagram in te loer vir interessante leesstof, kykstof en stories en/of om hulle eie ervarings te deel. “Die Naguilklub beteken jy is nooit weer alleen nie …”

DIE NAGUILKLUB HET GROOT PLANNE

“Ons is trots Suid-Afrikaans en Afrikaans en het begin om die hashtag #eersteinafrikaans te gebruik.”

Tans is die naguile besig met die skryf van hulle boek wat hulle graag in die toekoms wil publiseer.

Die gewilde en gesoute skrywer Maretha Maartens verleen hulp en gaan ook die voorwoord skryf. Dan is hulle besig met die ontwikkeling van hul handelsmerkreekse en natuurlik om die Naguilklub te vestig as beweging wat lewens kan verander.

Volg die naguile op Facebook – https://www.facebook.com/dienaguilklub/ en op Instagram – https://www.instagram.com/dienaguilklub/?hl=en – en gesels saam. Hulle hoor graag van jou!”