O

‘Ekkerige mense’

ONS het almal al ‘n “ekkerige” mens ontmoet. Dit pynig jou om in sulkes se geselskap te wees. Sulke mense praat gedurig oor hulself. Die woordjie “ek” word kwistig gebruik. Hulle spieël hulself gedurig in die opinie van andere. Hulle is jaloers op ander se sukses.

Hulle loop ander uit die pad, maar kan self geen kritiek hanteer nie. Hulle kan geen terugvoer oor hul swak optrede hanteer nie, maar sien dit net as negatiewe kritiek. Hulle sal jou druk todat jy hul siening oor sake onderskryf. Hulle dring daarop aan om met eerbied en respek hanteer te word.

Dalk sê u dadelik dat u sulke mense ken. Die punt is dat die Bybel ons altyd oproep om eers hand in eie boesem te steek voor ons die fout by ander soek. Van nature is ons almal maar “ekkerige mense”. Die beste voorbeeld hiervan is seker in die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18:9-14. Hier vertel Jesus ons ‘n verhaal oor ‘n “ekkerige” mens wat homself altyd na onder toe gemeet het.

As mens jou meet aan ander wat slegter, of minder opgevoed, of dommer as jy is, sal jy altyd die beste daarvan afkom. Die Fariseërs was in Bybelse tye mense met ‘n opgeblase ego.

Die tollenaars was die gestigmatiseerde mense, die mense wat jy afgeskryf het as brandhout vir die vuur. Ekkerige mense soos die Fariseërs het min deernis met ander gehad. Hulle het opgehou met selfondersoek en hulself gemeet aan die tekortkominge van ander.

Is baie van die spanning tussen groepe en individue in ons land nie dalk hieraan te wyte nie? Ons skryf outobiografieë oor onsself terwyl ons ander beskinder en karaktermoord pleeg. Ons moet eerder die gesindheid van Christus afbid, wat gekom het nie om sy eie beeld te poets nie, maar ander se voete te was. Jesus was die teenpool van “ekkerigheid”. En jy?