Wouter se Watergat

WOUTER WILLEMSE

DIS selde dat die Watergat doodstil word wanneer ‘n besoeker ‘n storie vertel, gevolg deur aanhoudende lagbuie.

Verlede Woensdag was een van daardie dae.

Dirk en Gerda Griesel van Randburg was hier vir die jaarlikse ski-boot hengel-kompetisie by die Shelly Beach-klub. Hulle het so agt-uur die aand hier ingeloer vir vis en skyfies ‘soos net die Watergat dit kan voorberei’.

Ewenwel, ons het oor ditjies en datjies gesels, toe Gerda Dirk vra om ons te vertel van sy besonderse ervaring met hul buurvrou.

Dirk wou nog teëstribbel, maar uiteindelik stem hy in, en op die spesifieke voorwaarde dat hy dit vertel soos hy dit op ‘n program soos Maak ‘n Las sou doen.

Dirk is baie goed met storievertel. Ter inleiding het hy die agtergrond geskets van hoe hulle hulself deesdae teen misdaad moet beveilig, en vertel hy het op ‘n Saterdagmiddag so drie weke gelede in sy tuin gewerk toe sy buurvrou hom nader roep.

Hy staan op uit sy kroegstoel, en met die nodige lyftaal en stem-intonasies het hy ons die volgende vertel, wat ons daarna in die volgende formaat saamgestel het, so ná as moontlik aan sy presiese woorde:

“Daardie Saterdagmiddag is ek besig in die tuin toe my sexy buurvrou my nader roep.

Eerste wat ek raaksien, is daardie lyf. Manne marak! Ek kry ‘n ‘pose’ soos ‘n pou op soek na ‘n wyfie, kom soos ‘n skouperd met so ‘n flinke drafstappie na die heining aangetrippel-galop, en slaan ‘n houding in wat Mnr. Universe soos ‘n ‘appy’ laat lyk. Ek strek my hand uit want ‘n man wil mos nou ‘n goeie indruk maak.

Pleks daarvan maak ek ‘n effense foutjie en vat die elektriese omheining in ‘n stewige groet vas. Grote $##$%%! Die ding skop my so hard, dit voel of my twee bene elkeen in sy eie rigting begin loop.

Ek sien wit voor my. My een kontaklens pop uit en lyk soos ‘n pannekoek wat geflip word.

Die ander lens krimp so en gaan plak sommer hier bo my oog vas. My tande klap opmekaar en ek lyk of ek koue koors het. Weg is my nuwe stopsel.

My klein-tongetjie slaan gat-oor-kop, duik in my keelgat af by my twee nuwe mangels verby, en my tong loop plak aan my verhemelte vas, want my speeksel het opgedroog.

In my agterkop speel die liedjie ‘Brick in the Wall’.

Ek sien ‘n Chinese vuurwerk-vertoning wat Shanghai sou jaloers maak. My oë kyk in all rigtings en vaagweg sien ek vier buurvrouens.

Ek slaan met soveel geweld op die grond neer, dit lyk of die Undertaker van stoei-faam my ge-‘chokeslam’ het.

Toe ek probeer opstaan, doen ek die splits beter as die Olimpiese gimnas wat die goue medalje gewen het.

Die gil wat uit my hygende keelgat by my kleintongetjie verbykom, klink soos ‘n bergie met agt biere in wat deur perdebye bygedam word.

Toe ek uiteindelik swetend en hygend stil lê, hoor ek haar sê: ‘Hi……jammer om te pla….ek wou net gou by jou hoor of hierdie elektriese heining ooit nog werk?”

Behalwe Dirk se storie, is daar min ander nuus, behalwe dat ek dit oorweeg om as Shark-ondersteuner te bedank.

Te erken my voorspelling van ‘n eindstryd tussen die Jaguares en die Crusaders was verkeerd, hoop die Lions klop die Waratahs en die Crusaders verloor teen die Hurricanes.

Weer ‘n eindstryd op Ellispark? Die Lions kan die Waratahs klop, maar die Crusaders op hul tuisveld verloor? Hoe lui die anglisisme? ‘n Pypdroom.