Wouter se Watergat

DIT was ‘n redelike stil maar ongelukkig waterlose week. Dit was dae lank die hoof-onderwerp van gesprekke hier in die Watergat, en die vraag was deurentyd hoe dit moontlik is dat ‘n top toeristebestemming in Suid-Afrika enige hoop op oorlewing het indien Bed- en Ontbyt-ondernemings hul klandisie verloor omdat die water opdroog. Toegegee, die meeste plekke wat verblyf verskaf het opgaartenks, en kan tot drie dae oorleef, maar wat doen jy wanneer die onderbreking ses dae duur? Of selfs langer? Wat van die gewone inwoner wat nie ‘n opgaartenk kan bekostig nie?

Die Watergat se tenk het vier dae se water gehad. Hierna moes ons water aanry om ons skottelgoed en tafeldoeke gewas te kry. Veral Shelly Beach is sleg getref, en hier het mense na vele waterlose dae ‘medisyne’ kom soek om hul frustrasies te neutraliseer. Baie van hulle het geen geheim daarvan gemaak dat indien hul dit kon bekostig en hul omstandighede dit toelaat, hulle iewers elders heen sou verhuis nie. Ten spyte van al die voordele van die Suidkus.

Hoewel dit nie regstreeks die gevolg is van water-onderbrekings nie, het ander gekla oor hul sake-ondernemings wat sukkel om kop bo water te hou. ‘n Bekende sakeman van Manaba sê van sy ou klante betaal nie hul skuld betyds nie. Wanneer hy dan navraag doen, maak hulle verskoning en sê hulle sal dit doen sodra mense wat hulle geld skuld, betaal. Laat ons nou maar eerlik wees.

Die land se ekonomie is in ‘n benarde toestand, maar dis erger op plekke soos die Suidkus waar seisoenale inkomste kritiek belangrik is. Dan praat ek nie eers van die eiendomsmark nie. Een van die agente wat gereeld hier kuier meen op die oomblik is dit die beste kopersmark in dekades. Dit hang natuurlik af van waar die eiendom geleë is, maar feit is, verkopers moet bereid wees om pryse ver benede die ‘normale’ markwaarde te aanvaar. Tesame met die ander klagtes oor verskillende dinge, doen dit ‘n mens se gemoedstoestand nie goed nie. Inteendeel. Gelukkig is daar in ‘n plek soos die Watergat gereeld ewige optimiste en grapjasse wat jou swaarmoedigheid help bestry.

Geluk aan die Golden Lions wat my verkeerd bewys en gekeer het dat die Jaguares in die eindstryd van die SupeRugbyreeks speel. Hulle het die Waratahs behoorlik opgerol nadat die Lions ons almal weer in die eerste 15 minute hartkloppings gegee het.

Oom Pottie was in ekstase, totdat hy daarop gewys is dat sy span bloot ter slagting gelei word na Christchurch. Dit sal ‘n rugby-wonderwerk wees indien hulle wen, veral geoordeel aan die manier waarop die Crusaders die Hurricanes, self ‘n spogspan vol All Blacks, klinies maar aanskoulik platgevee het.

Ons week is opgehelder deur Frans Swart, ‘n afgetrede prokureur en ‘n geesdriftige reisiger wat pas van Spanje af teruggekeer het. Hy het in Madrid ‘n bulgeveg bygewoon, maar niks daarvan gehou nie. Een van sy medetoeriste het hom egter die storie vertel van ‘n man wat ná ‘n bulgeveg na die restaurant langs die Plaza de Toros gegaan het vir ‘n egte en spesiale Spaanse maaltyd. Die kelner het ‘n dis met die naam Cojones de Toros aanbeveel. Die toeris het dit bestel, en hulle bring toe vir hom twee peervormige voorwerpe in ‘n sous, met lekker bykosse. Hy vra die kelner wat dit is, en word ingdelig dis die testikels van ‘n bul. Langtand proe die toeris daaraan, maar dis toe ongelooflik lekker. Baie tevrede gaan hy terug hotel toe. Die volgende aand, net voordat hy elders heen moes vertrek, gaan hy weer na dieselfde restaurant. Hy bestel dieselfde dis. Hierdie keer is die porsies egter baie kleiner. Hy roep die kelner en vra wat aangaan. Die kelner verduidelik in gebroke Engels: ‘Remember senõr, life is unpredictable. Virtually everytime ze matador wins. But zis time, the bull won’.