Wouter se Watergat

SOOS die legendariese koerantredakteur van die Kaap, Piet Cillié, op ‘n dag geskryf het: ‘Ek eet altyd my rape eerste’. Hy het verduidelik toe hy ‘n jong kind was, het sy ma hom gedwing om rape te eet, klaarblyklik omdat hulle geredelik beskikbaar was, maar ook gesond. Sy het nooit nee vir ‘n antwoord aanvaar nie, en toe besluit hy as hy sy ete wil geniet, eet hy hulle eerste. Hy het dieselfde beginsel in die alledaagse lewe toegepas. Die onaangename nooit vir laaste gehou nie.

Vandeesweek doen die uwe dieselfde. Geluk aan die Golden Lions dat hulle nooit gaan lê het nie, en groot veggees getoon het. Feit is egter hulle is deur ‘n fenomenale span geklop, ten spyte daarvan dat die besoekers meer balbesit en gebiedsvoordeel gehad het. Die deurdringingsvermoë was net nie daar nie, en al het die skeidsregter soms eienaardige beslissings gegee, was die Crusaders net te goed. ‘n Bekende rugbyskrywer het voor die half-eindstryd van die Crusaders teen die Hurricanes gesê dis in Suid-Afrikaanse belang dat die Lions teen die Crusaders speel sodat Rassie Erasmus finaal kon besluit oor die vermoëns van sekere Springbokke in die Gautengse span. Hy was reg. Elton Jantjies, so goed as wat hy soms kan wees, is nie ‘n Springbok-losskakel nie, Ross Cronjè is net ‘n soliede ‘journeyman’, Courtnall Skosan sal nooit op internasionale vlak presteer nie, Kwagga Smith, met al sy goeie hoedanighede, is net te klein vir ‘n internasionasle speler, en ek wonder of Warren Whiteley nie in dieselfde kategorie val nie. Teen ‘n sterk agttal is Malcolm Marx ook nie sy verwoestende self nie. Ek is bly ek is nie jy nie, Rassie. Tussen hakies, daardie A en B-span idee van jou lyk my nie na ‘n goeie idee nie. Ek hoop jy bewys my verkeerd. Die Curriebeker-kompetisie? Verskoon my, ek wil gou gaap.

Verder niks besonders om te rapporteer nie, behalwe dat van ons besoekers gepraat het oor dinge wat hulle hier op die Suidkus irriteer. Nommer een was, heel voorspelbaar, die padgedrag van die minibus-taxibestuurders. Nommer twee, die onverskilligheid van mense met die groot viertrekvoertuie wat ‘n hele parkeerplek van hoek tot kant vol staan, en dan heel selfsugtig en onversigtig, hul voertuie se deure oopgooi met rampspoedige gevolge vir die motors langsaan, en dan bloot skouerophalend wegstap nadat hulle die duik in die buurmotor se deur gestamp het. Ek het persoonlik twee sulke insidente op ‘n afstand in een dag aanskou. Gaan kyk ‘n bietjie na jou eie voertuig en tel die stampe en duike veroorsaak deur ander motors se deure. Negentig persent van die kere deur die groot SUV’s en viertrekmonsters van die mense met dik beursies.

Klagte nommer drie was motor-‘oppassers’ by winkelsentrums. Natuurlik bied dit hierdie mense ‘n inkomste, en ek gee sonder probleeme wanneer hulle daar is wanneer ek parkeer, vriendelik groet, en daar is wanneer ek vertrek. Maar wanneer daar niemand is met my aankoms nie, en wanneer ek in my tru-spieëltjie kyk met die vertrek, ‘n karwag skielik soos Mary Poppins uit die niet verskyn en met ‘n handeswaaiery beduie hoe ek moet draai, is ek onmiddellik de dinges in. Want nou moet ek in my sak grawe vir ‘n munstuk as daar nie een in die asbakkie is nie, en wanneer my sak ook leeg is, kry ek ‘n suur kyk wanneer ek verskoning vra dat ek nie ‘n munstuk het nie. Terloops, maak ‘n paar sommetjies en bepaal hoeveel jy maandeliks aan karwagte uitgee. Nogal insiggewend.

Daar was nog talle ander klippe in die skoen, maar gelukkig is ons bier yskoud, spykaart-items buitengewoon, en lag ons baie. Soos vir hierdie stellings van die week: ‘Ek is verslaaf aan remvloeistof, maar ek weet wanneer om te stop’…….en ‘Goeie gesondheid is niks anders as die langste moontlike proses om te sterwe te kom nie’. Tot volgende week.