Wouter se Watergat


DIT was seker een van die stilste weke wat ons in baie maande beleef het. Stil in die sin van minder besoekers, hoofsaaklik omdat daar oor die naweek nie rugby was nie, maar ook in die gesprekke.

Daar was inderwaarheid net een onderwerp waaroor almal iets te sê gehad het, naamlik die berigte oor die sg. pedofiel-netwerk in die Nasionale Party se senior politieke gestoeltes.

Ek moet verklaar, dis iets wat ek moeilik glo, maar mense wat so ‘n boek skryf moet seker wees van hulle saak indien hulle nie hof toe gesleep wil word nie.

Die belangrikste vraag wat hier gevra is, is waarom dit nou eers onthul word, na al hierdie jare? Die betrokkenes se nageslag en familie moet ‘n nagmerrietyd beleef, soos die oorlewende minister dit self in ‘n Sondagkoerant verwoord het.

Hoe dit ookal sy, hierdie storie gaan nie sommer net verdwyn nie.

As gevolg van die verveling verlede Saterdag, het Pottie voorgestel ons hou ‘n storievertel-kompetisie. Die wenner, wat deur die ander deelnemers aangewys word, wen dan ‘n kas bier, geborg deur die uwe. Ons het meer ‘sports’ gehad was wat ons ooit kon droom, en dit was een van die aangenaamste Saterdagmiddag- en vroeg-aandtye wat ek kan onthou. Die wenner was Hennie Joubert van Gauteng. Hy het met hierdie storie gewen:

Sy familie het in die ou dae, soos almal maar gedoen het, baie te perd van punt A na punt B beweeg. Sy swaer Sarel se perd het op ‘n dag op ‘n sand-adder wat in die middel van die pad gelê het, afgekom. Die perd skrik, spring sylings, en Sarel val hard. Hy trek sy rewolwer uit sy skede en lê aan op die slang. “Moet my nie doodmaak nie, asseblief,’ smeek die slang.

“Ek sal jou drie wense gee as jy my lewe spaar.” Sarel is skepties, maar besluit om die slang te toets.

‘Goed, gee my ‘n nuwe saal vir my perd’. Voor Sarel se oë word die saal nuut. “Hoe lyk dit met ‘n nuwe rewolwer?”.

Onmiddellik is daar ‘n nuwe 357 Magnum in sy hand. “Wat van ’n sak vo lgeld?” Skielik is daar ‘n goiingsak vol geld by hom. Sarel kan dit nie glo nie, maar hoogs tevrede laat hy die slang gaan.

By die huis vertel Sarel sy familie wat gebeur het.

Hulle byt langtand aan die storie, maar hy wys hulle wat hy gekry het, en sien is glo. Hannes, een van sy neefs, klein van postuur, elke liggaamsdeel, sluip weg, gryp sy haelgeweer en spring op sy Oom Willem se perd.

Hy gaan soek die slang, en gedoriewaar, hy kry hom presies waar Sarel op hom afgekom het.

Hy spring van die perd af, rig die haelgeweer op die slang, die slang smeek weer om sy lewe, die slang belowe hom drie wense, en Hannes vra ‘n nuwe pak klere met ‘n bypassende hoed.

Hy kry dit. “En ‘n fris lyf soos my neef s’n?” Skielik voel hy hoe hy groei en sy klere se knope begin afspring. “Nou vir die laaste, en belangrikste een. Ek wil so goed bedeeld wees soos hierdie perd.” Hy voel hoe hy verander waar dit saakmaak. Heel tevrede groet hy die slang”

Tuis vertel hy sy familie van sy ondervinding. Hulle is weereens verstom. ‘Maar ek wil julle manne gaan wys waarop ek trots is!”. Die vyf jongmanne in die geselskap volg hom tot agter die waenhuis.

Met ‘n breë gimlag knoop hy sy gulp oop. Die manne snak na hul asems en een val selfs flou.

Hannes kyk self af en kry die skok van sy lewe. ‘O d*nner’, kerm hy, “ek het vergeet Oom Willem se perd is ‘n merrie”.