Wouter se Watergat

VANDEESWEEK is dit onvermydelik dat ek met kommentaar oor rugby begin. Enersyds was dit lekker om te sien hoe die Springbokke na ‘n stadige begin momentum kry en die Argentyne heeltemal oordonder. Veral verblydend was die vertonings van die jonger manne, veral die vleuels en daardie 20-jarige juweel van die Lions, Aphiwe Dyantyi. Onder die voorspelers het Etsebeth gespeel asof hy nooit beseer was nie, maar die ‘Meneer’, soos Oom Pottie hom noem, Malcolm Marx, sal aan sy lynstaan-ingooie moet werk. My gunsteling-skrumskakel, Faf de Klerk, het ook weer gespeel asof hy deur Durcell-batterye aangedryf word. Kom ons hoop Rassie se keuses en strategie is reg vir die naweek se kragmeting in Mendoza. Tuis is die Argentyne strate beter as in die buiteland. Moenie verbaas wees as ons weer daar verloor nie.

‘n Ander rugby-waarneming die naweek was dat die All Blacks op die oomblik seker die beste rugby-masjien het wat hul nog gehad het. Verdediging rotsvas, giftig op die aanval, weet presies wanneer om wat te doen, en briljante individuele spelers. Hulle het die arme Aussies eers sag gemaak en toe papgespeel. Presies soos die Crusaders met die Lions gedoen het. Dieselfde meedoënlose en amper foutlose spel, en wanneer die ander span beter word, skakel hulle net oor na ‘n hoër rat. Elke Nieu-Seelandse span speel dieselfde tipe rugby, die enigste verskil is party doen dit net beter as ander. Sowel die Australiërs as ons gaan les opsê, en is eenvoudig nie op dieselfde vlak nie. Ek hoop ek moet my woorde sluk, maar ek is bevrees, dit gaan Rassie lank vat om ons weer die krag van ouds te maak. Ons het verlede Maandag vir die eerste keer in jare ‘n skermutseling in die Watergat gehad. So sewe-uur die aand het twee pare, albei die meisies was blond, saam met hul metgeselle, bebaarde manne, by die toonbank kom sit en bier bestel. Hulle het met motorfietse ge-arriveer, in swart leer geklee van bo tot onder. Later was dit Captain en Coke, en ek kon hoor hulle het verskil oor iets……..geklink soos Kim Kardashian se haarkleur. Nog ‘n halfuur en paar Captains later, het een van die mans die ander ou se blondine teen die skouer gestamp, en toe was die gort gaar.

Ons het hulle met moeite gekalmeer, en mooi gevra om liewer die pad te vat. Buite het hulle vrede gemaak, op hulle ysterperde geklim, en met brullende uitlaatpype laat waai. Vol bier en Captains en Coke.

Dit het my aan ‘n ou storie laat dink…’n blinde ou stap per ongeluk by ‘n kroeg in vir vroue wat nie in mans belangstel nie. Hy gaan sit, en bestel ‘n drankie. Na twee slukke skree hy vir die persoon agter die kroeg: ‘Haai, wil jy ‘n dom ‘blond’-grap hoor? Tjoepstil is almal. Totdat die vrou langs hom in ‘n diep stem in sy oor fluister: ‘Jy moet iets baie goed verstaan, my maat, voordat jy daardie grap vertel. Die ‘bartender’ is ‘n blonde vrou, die ‘bouncer’ is ‘n blonde vrou, die meisie langs my is blond, en sy is ‘n liggaamsbouer, ‘n entjie verder is daar ‘n senior blonde vrou, ‘n bekende gewig-opteller, en ekself is oor die ses voet, weeg 120 kilogram met ‘n doktorsgraad, ‘n swart gordel in karate en my Engelse vriende sê ek het ‘n ‘bad attitude’. Wil jy nog steeds jou ou grappie vertel? Die blinde ou dink ‘n oomblik, en verklaar, ‘nee wat, nie as ek dit vyf keer moet verduidelik nie.’