Wouter se Watergat

DIT was ‘n tipiese Augustusweek: Min besoekers uit ander dele van die land, redelike lekker weer met ‘n paar reënerige dae, en ons plaaslike klante wat in en uit beweeg.

Ons personeel en ek het het die week benut om die kombuis-area stuk vir stuk van ‘n kant af skoon te maak soos ons elke drie maande doen. Nie net die daaglikse roetine nie, maar met die hulp van ‘n buite-onderneming wat alles met stoom en ontsmettingsmiddel takel, en jou kosmaakplek soos ‘n hospitaal se operasiesaal laat ruik en lyk.

Dit kos nogal baie geld, maar minstens weet jy dan dat die gesondheids-inspekteurs heel tevrede sal wees. Hierdie keer moes ons ook ‘n paar mikrogolf-eenhede wat aan die einde van die pad gekom het, en ‘n gasbraaier of twee vervang. Dit het my bankbalans nogal ‘n knou gegee, maar ons weet nou minstens die Watergat se ‘drinkwater’ is suiwerskoon.

Verder het daar nie veel gebeur nie, en die hoofbesprekingspunt was, seker onvermydelik, die grond-onteieningstorie met die verskillende uitgangspunte en gepaardgaande talle emosionele en min rasionele argumente. Iets waarvoor daar nie in hierdie rubriek genoeg plek is nie, behalwe om die vraag te vra hoe dit hoegenaamd moontlik is dat ‘n president van Amerika ‘n opdrag aan sy minister van buitelandse sake oor die saak op Twitter kan gee, gebaseer op verkeerde inligting van ‘n regse Amerikaanse joernalis. Hier was heelwat steun vir Trump, onder meer van Oom Pottie wat nie kan glo dat die man iets verkeerd kan doen nie.

Daar was egter heelwat argumente, onder meer van myself, dat die man dalk goeie bedoelings het, maar dat hy besig is om stelselmatig sy eie graf te grawe. Hy is miskien ‘n goeie sakeman, maar nie ‘n president se agterent nie. Die man is ‘n nar.

Die Springbokke? Wat kan ‘n mens sê? Behalwe om te vra ‘wat is nuut?’. Gelukkig is Rassie eerlik genoeg om nie te verklaar daar is baie positiewe dinge om te neem uit die nederlaag in Argentinië nie, soos baie van sy voorgangers sou doen nie.

Dit lyk egter asof die grootste teleurstellings nog kom. Selfs Australië lyk nou na ‘n te steil berg om te klim, ten spyte daarvan dat die All Blacks hulle weer verniel het. Presies soos hulle die Springbokke gaan verniel, tensy Rassie ‘n haas uit die hoed trek.

In die Curriebekerreeks is die Goue Leeus en die Sharks die spanne om dop te hou. Of daai jong nuwe mannetjies in die span van Johannesburg enduit sal kan volhou, sal ons moet sien.

My geld is op die Sharks in ‘n kompetisie wat al sy glans verloor het en voor leë pawiljoene plaasvind. Iemand sal baie vinnig iets moet doen. Moet my net nie vra wat nie.

Ons beste stories vandeesweek is die volgende twee: ‘n Springbok-rugbyspeler stap ‘n apteek binne en vra om ‘n sweetweerder. ‘Die ball-tipe?’ vra die apteekmeisie. ‘Nee,’ sê die speler, ‘dis vir onder my arms.’ Nommer twee het baie van julle seker reeds gehoor, maar hy is onlangs internasionaal aangewys as die beste grap van die jaar.

Twee jagters stap in die woud en skielik slaan een neer. Hy haal nie meer asem nie en sy oë is glaserig. Sy maat bel die mediese nooddiens met sy selfoon en roep benoud: “My vriend is dood. Wat moet ek doen?” Die man aan die anderkant antwoord: “Bedaar. Ek kan help. Kom ons maak eers seker jou vriend is dood.” ‘n Lang stilte volg en toe klap ‘n skoot. Die jagter sê: “Nou goed, wat nou?”