TWEE van Brandwag se topmatrieks is finaliste in twee matriek-van-die-jaar-kompetisies.
Martelize Kruger is een van 14 finaliste in Die Volksblad/UV Matrikulant-van-die-jaar-kompetisie. Voornemende Kovsies van regoor die land kon inskryf en die finaliste word einde September finaal beoordeel.
Martelize en Brandwag hoofmeisie Chanri Strydom is ook finaliste in Absa en The Herald se plaaslike Matriek-van-die-jaar-kompetisie.
Albei meisies spog met ’n lang lys sport-, kultuur- en akademiese prestasies. Martelize en Chanri het onderskeidelik as onderkaptein en kaptein vir Brandwag se eerste netbalspan uitgedraf en verskeie kere Oos-Kaap-kleure in dié sport verwerf. Albei is provinsiale netbalskeidsregters. Chanri was gedurende haar hoërskoolloopbaan kaptein van elke netbalspan, skool en provinsiaal, waarin sy gespeel het. Die voormalige Protea-afrigter Elize Kotze het albei gekies vir ’n elite-span om later vanjaar in Mauritius deel te neem.
Martelize is ’n OP-driekampatleet wat al verskeie goue en silwermedaljes ingepalm het. Saam was die twee verlede jaar die top Oos-Kaapse debatspan in die ATKV-debatskompetisie. Martelize beplan om volgende jaar optometrie by Kovsies te studeer terwyl Chanri vir medies by die Universiteit van Stellenbosch gekeur is.