Gamtoosvallei maak reg vir Nartjiefees

’n SOET nartjie is ’n lekker ding. En van dié lekkerte gaan daar tonne wees in die Gamtoosvallei by vanjaar se Nartjiefees op Loerie!

Lekker is woord van die dag by dié fees op 29 September, want daar is goeie musiek, mooi kuns, heilsame kosse, heerlike samesyn en dit alles in die natuurskoon van die land se “groentemandjie-vallei”.

Die fees word vir die 27ste jaar deur die NGK Loerie aangebied. ’n Keur van gewilde Afrikaanse sangers gaan ook daar wees soos Juanita du Plessis, Adam Tas, Snotkop, Sonja Heroldt en Die Campbells.

Daar is nog ’n beperkte aantal plekke oop vir kunsmarkstalletjies. Stalletjies vir kosse en drinkgoed word deur die kerk beman en is nie vir bespreking nie.

  • Vir stalletjiebesprekings bel die Nartjie-feeskantoor by 042 287 0634 of 082 318 6827.