‘Hap-en-stap’ soek nog flink stappers

AL wat nodig is, is gemaklike stapskoene, ‘n stok, ‘n dagrugsak en ’n gesonde gees wat lief is vir die natuur.

Natura Stapklub se mense pak vir die afge-lope 20 jaar elke Maandag ’n roete aan, hetsy in die veld, berge of langs die see.

“Ons doen net dagstappe en vertrek 8 uur en is so ongeveer 4-uur weer terug by die huis,” sê Helena Botha van die Natura Stapklub.

“Ons is ook bekend as die ‘hap-en-stap’ klub want ons stap rus-rus en werk altyd ‘n blaaskansie iewers in. Daar is niks so lekker as om onder ‘n boom of by ‘n waterval te sit en eet met ‘n koppie boeretroos nie.”

‘n Redelike fiksheidsgraad is belangrik om saam met die “hap-en-stappers” te gaan. Al die roetes is nie ewe kort of ewe maklik nie, maar vir seker die moeite werd. Daarom word daar op hul program duidelik aangedui wat die moeilikheidsgraad van elke roete is.

Natura Stapklub is op soek na nuwe lede om die roetes saam met hulle aan te pak en saam ’n blaaskansie op ’n mooi plek te geniet.

Staproetes: 27 Augustus - Sardiniabaai, maklike 10km. 3 September - Maitland Mines, maklike 10km; 10 September - Waterboom by Alexandria, matige 12km; 17 September - Sondagsrivier, maklike kort roete, bring en braai na die tyd.

  • Vir meer inligting bel Helena Botha by 082 443 2858. -HEILIE COMBRINCK