Die pa wat meer as 30 jaar gelede sy tienerdogter oor ’n tydperk van ses jaar verkrag het, is in die landdroshof in Uitenhage aan verkragting en seksuele aanranding skuldig bevind.
Lionel Potgieter, ’n 72-jarige afgetrede pastoor wat aan die Heilsleër verbonde was, het met sy vorige verskyning in Junie erken dat hy sy oudste dogter, Chantelle Akers (48), tussen 1981 en 1987 seksueel betas het.
Landdros Nkululeko Nogcantsi het in sy uitspraak gesê hy verwerp Potgieter se weergawe dat hy nie vir Akers verkrag het nie en bestempel dit as vals. Volgens hom het Potgieter skuld beken op die voorvalle wat minder verdoemend is, maar verkies om homself te distansieer van die ernstiger aanklag van verkragting.
Nogcantsi het ook gesê hy stem saam met die staat dat Potgieter in kruisondervraging gerieflik sekere besonderhede vergeet het as hy ondervra is oor die verkragting.
Hy het ook gesê Akers, wat weens dié seksuele mishandeling aan onder meer depressie en eetsteurnisse gely het, was ’n eerlike, betroubare getuie wat haar weergawe duidelik kon weergee.
“Daardie trauma is in haar geheue geëts. Sy het die kantoor met soveel duidelikheid beskryf vir ’n 11-jarige dat daar nie ’n manier is dat sy dit opgemaak het nie Die hof is van mening dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat hy skuldig is aan verkragting.”
Akers, wat nie die uitspraak bygewoon het nie, het ná die verrigtinge oor die telefoon in trane uitgebars van blydskap. “Ek is steeds heeltemal oorweldig omdat ’n mens nooit weet wat die uitspraak gaan wees nie. Ek het nog altyd die waarheid vertel oor wat gebeur het en gebid dat dit genoeg sou wees om hom skuldig te bevind, en dit was.
“Ek het uiteindelik afsluiting gekry. Wat hy gedoen het, sal nie meer soos ’n swaard bo my kop hang nie. Hy moet tronk toe gaan en niks minder kry nie,” het sy gesê.
- Nogcantsi het die saak tot 30 Augustus uitgestel sodat ’n voorvonnisverslag saamgestel kan word voordat vonnisoplegging plaasvind.