VELDWAGTER Clive Hendricks (35) is vir die afgelope 14 jaar deel van die span wat omsien na die veiligheid van wilde diere in Addo-olifant Nasionale Park. Hy sê dis vir hom soos ’n droom, nie ’n werk nie, want hy weet hy beskerm ’n natuurerfenis wat uniek is aan Suid-Afrika.
“Hoe langer ’n mens in die bos is hoe meer word jy een met die natuur. Ek ken elke dier se maniere en sien vinnig as iets nie is soos dit moet wees nie. Ek kan sien en hoor as daar gevaar is of as iets die diere in die bos omkrap,” sê Hendricks, ’n assistent-seksie veldwagter in die Addo-hoofkamp.
Hy sê dat alhoewel Addo-olifantpark gelukkig nog nie deurgeloop het onder stropers nie, is hulle as veldwagters glad nie gerus nie maar op hulle hoede en reg om enige ongewenste situasie te hanteer.
“Elke park is uniek en het sy eie uitdagings. Dit gaan rowwer in die noorde soos by Kruger-park. Hier het ons ander situasies wat ons moet hanteer,” sê Hendricks.
Hy het van kleintyd af ’n liefde vir diere en bewaring en sê dit het begin toe hy twee gespikkelde uiltjies gered het.
“Dit is goed om deel te wees van Wêreld Veldwagterdag. Dit maak my net nog meer trots op my werk,” sê Hendricks.