DWELMGEBRUIK onder laerskoolkinders is nie meer vreemd nie. Ouers is onkundig oor hoe om dit te hanteer en skole het nie die fondse om voltydse maatskap-like werkers aan te stel om dié sosiale euwel aan te spreek nie.
Moya Britz ’n maatskaplike werker wat voorheen verbonde was aan SANCA, wat intussen ontbind het, is ’n kenner op die gebied van kinderbeskerming en substansiemisbruik. Sy doen tans berading in dié velde by St. Theresa in Shauderville as-ook by Rufane Donkin Primêr.
“Ons het al gevalle hanteer waar ’n 9-jarige kind verslaaf was aan dagga. Ouers weet nie altyd waarheen met so ’n kind nie en kan ook nie sielkundige terapie bekostig nie,” sê Moya.
“Dit is waarom ek nou saamwerk met skole om soortgelyke gevalle te hanteer en om ouers in te lig hoe om te werk te gaan.”
Moya skryf ook kinderstories en gedigte (ongepubliseerd) met die doel om hoop te bring vir kinders wat seksueel misbruik is.
Moya is die gasspreker by VLV Despatch se maandvergadering wat op Donderdag, 30 Augustus om 18:00 in NG Eendrag-kerk (Glaskerk) gehou word. Alle belangstellendes is welkom.
- Vir meer inligting bel Juby Bubb Vermaak by 082 823 9972. - HEILIE COMBRINCK