Cas Vos
PROTEA, R151
Weerloos lewe is pragtig uitgegee en is Cas Vos se agtste digbundel.
Tematies vind die leser hier ’n hele paar temas in die vorige bundels weer: skeppingsverhale; verwerkings van mites (in hierdie geval grepe uit Die Odusseia en Die Ilias); die geding met die dood, siekte en verval; liefdesverse; beeldgedigte; en gedigte oor kunstenaars.
’n Somber, morbiede toonaard word sterk deur die bundel gevoer, maar die geheel mond in ’n mate in lig uit.
Soos in die vorige bundels is daar ’n handvol gawe verse wat daarvan getuig dat Vos soms ’n suiwer toon kan slaan met ’n eie stem, soos die siniese “My anima is my herder”, “Mans”, “Verraai ons angs nie anoniem” (die laaste twee weliswaar borduursels op ander verse), “Dae vol herfs”, “In die begin” en die beeldgedigte na aanleiding van kunswerke van Diane Victor (“’n Bejaarde: portret in as en roet” en “Reënperd):
Reënperd
Rain horse, 2010, Diane Victor
Die perd huiwer bokant
’n onheilspellende landskap
verkoolde bome
en murasies waar herinneringe
oor die rand weggalop.
Nogtans sal hy lighoef
en vlugtig uit die donker bly droom.
Die verwerkings van gedeeltes uit Die Odusseia en Die Ilias is ook noemenswaardige verbeterings op die strak, letterlike vertalings deur J.P.J. van Rensburg.
Reeds met Vos se bundel Intieme afwesige (2009) het die ongemaklike indruk van ’n “kritieke massa” wat bereik is egter by hierdie leser ontstaan, ’n gevoel wat ongelukkig versterk word met Weerloos lewe.
Waar Vos in ’n bundel soos Die afdruk van ons hande (2007) in ’n mate nog ’n eie stem kon handhaaf, raak daardie stem nou weg tussen ’n groot verskeidenheid ander stemme wat ingespan word in ’n poging om die gedigte te versterk.
Die gevolg is ’n soort afgeleide poësie, geleende vere, wat al hoe duideliker uitstaan en beelde wat hulself al hoe sterker herhaal binne die oeuvre. (Álle digters steel. Dis ’n gegewe; sommiges steel en verwerk net slimmer as ander.)
Selfs in die aangehaalde gedig hier is daar ’n variasie – “lighoef/ en vlugtig” – op ’n stelwyse in “Gesprek met die dood” (p. 62) – “lig en vlugtig” – wat eweneens geleen is van ’n ander digter.
Voorts word verskeie verse ontsier deur futlose byvoeglike naamwoorde, clichés, melodramatiese en argaïese stelwyses (“Balag van ’n enkeling”, “Winter”, “Miskien”, “Die digter as kneg”) en rymelary (vergelyk “Arthur Rimbaud”).
Talle verse is bloot lomp, soos “Tromme”, “Tussen lewe en dood” en “Minnares”.
’n Gedig soos “Marilyn Monroe” ding ongelukkig mee teen talle ander verse oor Monroe in die Afrikaanse digtradisie en vergelyk swak met gelyknamige verse van bv. T.T. Cloete, Johann de Lange en Tom Gouws.
Al hierdie negatiewe aspekte dui op ’n oorhaastige en ondeurdagte werkwyse wat die paar goeie verse – wat daar wel is – in die skadu stel en geen groei in hierdie digterskap aandui nie, eerder ’n verstarring.