News24

Tarantino in die Overstrand

2011-10-09 21:41 Piekniek by Hangklip

Kerneels Breytenbach

HUMAN & ROUSSEAU, R220

Binne die raamwerk van die lagwekkende word oor meer gewigtige sake gefilosofeer, soos die aard van kitsch, in Piekniek by Hangklip, skryf Thys Human.

Prent jou dit in: ’n Speurverhaal-geesdriftige loop by die plaaslike tak van ’n bekende boekwinkelgroep in.

Met leeshonger en determinasie pyl hy op die rak met Afrikaanse boeke af.

Hy is duidelik nie geduldig genoeg om tot einde November te wag vir die verskyning van Deon Meyer se 7 dae of nog lánger vir die derde aflewering in Chris Karsten se Abel-trilogie nie.

Sy oë dwaal verby Karin Brynard en Piet Steyn en val uiteindelik op Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip (wat 18 jaar na sy voorganger, Glimlag, verskyn).

’n Skrander leser met die nodige agtergrondkennis sal natuurlik weet dat hy die verskil ken tussen die “deftige” speurverhaal (in die Agatha Christie-tradisie) en die sogenaamde “hardebaard-speurverhaal” wat aan die ander kant van die Oseaan gewildheid verwerf het.

Ook dat hy maar alte goed besef dat speurverhale lankal nie meer aan tradisionele vereistes hoef te voldoen nie.

Uit die verhaalopsomming op die agterblad klink dit vir hom na ’n boek wat aan sy verwagtings kan voldoen: Joshua Gumbo, ’n Lid van die Lucky Thirteen-sindikaat in Johannesburg, skiet Sonja Griessel se ouers dood wanneer hy haar luukse 4x4 probeer kaap.

In die proses struikel Sonja egter op ’n hoër as gebruiklike hak en plant ’n soen vol op haar kaper se lippe.

In ’n poging om dié traumatiese voorval te vergeet en weer haar voete te vind verhuis Sonja sak en pak na die Kaap.

Joshua, wat glo dat haar soen hom van sy mojo beroof het, sit haar met allerlei wraakgedagtes agterna.

Uit dié eenvoudige maar ook uiters vrugbare gegewe ontwikkel ’n reeks avonture en verhaalwendings wat die sinne laat duisel.

Deur die reinste van toevalle spoor Joshua Sonja eindelik op en hul paaie kruis ’n laaste maal (in dié roman altans) tydens ’n hedonistiese “piekniek” by die Hangklip-hotel.

Ons weet egter baie goed dat daar geen manier is waarop dié kort lusmaker of die bemoedigende bloedspatsels op die roman-omslag ons speurfoendi ten volle sal kan voorberei op dit wat in Piekniek by Hangklip op hom wag óf op die vrypostige (en soms heerlik onkuise) wyse waarop dit aan hom oorgedra gaan word nie.

Kerneels Breytenbach beskryf sy nuutste roman byvoorbeeld self as “’n speurverhaal sonder ’n speurder”.

In teenstelling met ander moord-rillers is hier geen siniese speurder wat as verteller (of fokalisator) optree nie.

Danksy die eksterne verteller se gereelde toetrede tot die teks word die leser oplaas die enigste “speurder” wat genoeg inligting ontvang om van die raaisels op te los en afleidings te maak.

[Een van die opwindendste speurtogte wat ’n nuuskierige leser in Piekniek by Hangklip kan onderneem, is die uitpluis van die intertekstuele drade wat Breytenbach in sy roman inweef – van Tarantino en Riefenstahl; dwarsdeur Nietzsche, Kafka en Borges; tot by Etienne Leroux en die Groot Verseboek.]

Ofskoon Breytenbach dié soort verteller duidelik by Fielding afgekyk het, is daar egter geen sprake van skatpligtigheid nie.

Aan die een kant skep die verteller ’n ironiese afstand tussen die leser en die karakters, wat eersgenoemde bewus hou van sy/haar kritiese reaksie op die gebeure.

Aan die ander kant neem die verteller die leser soms so sterk in sy vertroue en is hy so eerlik oor sy werkwyse en bedoelings dat die leser ook die geleentheid kry om die karakters se standpunte in te sien en empatie met hulle te ontwikkel.

Die volledige titel van Breytenbach se roman, “Die Geskiedenis van die Avonture van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Geskryf in Vae Navolging van die Styl van Henry Fielding, Outeur van Joseph Andrews. In Een Volume”, bied nie net ’n belangrike leesleidraad ten opsigte van die literêre genre waarbinne Piekniek by Hangklip gelees en beoordeel behoort te word nie; dit stem ook tipografies (en stilisties) ooreen met die titelblad in Henry Fielding se roman: “The History of the Adventures of Joseph Andrews.

And of his Friend Mr. Abraham Adams. Written in Imitation of The Manner of Cervantes. Author of Don Quixote. In Two Volumes.” In sy voorwoord tot dié roman gebruik Fielding die term komiese epos (“comic epic poem in prose”) om na die aard van die werk te verwys:

“[A] comic romance is a comic epic-poem in prose; differing from comedy, as the serious epic from tragedy; its action being more extended and comprehensive; containing a much larger circle of incidents, and introducing a greater variety of characters.

It differs from the serious romance in its fable and action, in this: that as in the one these are grave and solemn, so in the other they are light and ridiculous; it differs in its characters, by introducing persons of inferior rank, and consequently of inferior manners, whereas the grave romance sets the highest before us; lastly in its sentiments and diction; by preserving the ludicrous instead of the sublime.”

Op dié wyse word die twee hoofkarakters se reise (quests); die duiselingwekkende aantal karakters en intriges wat soms net lossies met die sentrale verhaallyn in Piekniek by Hangklip skakel; die lang onderbrekings en uitweidings op die ongeleëste van tye; en die aanbied van banale en kru gegewe (en hoe spat die harsings darem nie?) in die verhewe styl van klassieke heldeverhale nie net bevredigend verklaar nie, maar ook as onontbeerlike roman-onderdele aan bod gestel.

Soos by Fielding word daar, binne die raamwerk van die lagwekkende, telkens ook oor meer gewigtige sake gefilosofeer, soos die aard van kitsch, reparasie en restitusie, die wasige lyn tussen goed en kwaad, sosio-politieke vraagstukke soos misdaad en korrupsie, die posisie van die vrou in die samelewing en vele meer.

Piekniek by Hangklip vra dus van lesers om hul vooropgestelde verwagtings en idees eenkant toe te skuif (of ten minste as verwagtings te erken én te bevraagteken).

Volgens die verteller is dit van die allergrootste belang dat die leser moet glo dat Sonja wel Joshua se mojo met ’n soen gesteel het, want slegs dan kan aangevoer word dat Joshua se lyding in die roman nié kitsch was nie.

Op lesers wat bereid is om dié geloofsprong te waag, wag daar ’n leeservaring sonder gelyke: stilisties behendig, soms skandalig satiries, plek-plek sedeloos en sinnelik, maar áltyd slim en skreeusnaaks!

Thys Human is letterkundedosent en hoof van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg.