News24

Nalatenskap van ’n besonderse vrou

2012-01-06 23:00 Maria Margaretha (Marie) Koopmans-De Wet (1834-1906) was ’n verfynde en ontwikkelde vrou wat vir haar tyd ’n buitengewone opvoeding geniet het. Sy was een van die twee dogters van die vooraanstaande Kaapse regsgeleerde Johannes de Wet (1794-1875) en Adriana Dorothea Horak (1787-1868). Johannes de Wet was ’n geleerde, gekultiveerde man, ’n groot boekliefhebber, ondersteuner van Hollandse onderwys en later ’n lid – en selfs vir ’n kort ruk president – van die eerste Kaapse Wetgewende Vergadering.

Marie en haar suster, Margaretha, het in Strandstraat 23 (vandag 35) grootgeword, waar hulle met al die vooraanstaande mense in Kaapstad kennis gemaak het en ’n opvoeding in die kunste en tale ontvang het. Marie is in 1864 getroud met Johan Christoffel Koopmans, ’n Nederlander wat hom aan die Kaap kom vestig het, aanvanklik as offisier in die Brits-Duitse legioen op die oosgrens, later as buitelandse korrespondent van die poskantoor en uiteindelik as ampswag van die wetgewende vergadering. Hy was ses tale magtig en met Marie se vloeiende gebruik van Frans, Duits, Italiaans en Engels was hul woning ’n welkome besoekpunt vir mense uit verskillende wêrelddele en agtergronde.

Met die dood van Marie se ouers en haar man het Margaretha by haar kom woon. In 1881 het sy die eerste keer ’n reis na Europa onderneem, waar sy deur haar Koopmans-familie hartlik ontvang is. Hier ontmoet sy die eerste keer haar suster se agtienjarige seun, Frans Vredenrijk Engelenburg. Hy was dadelik baie beïndruk met sy tante, en by haar tweede besoek vergesel hy haar op ’n meer uitgebreide Europese reis as in 1881 waartydens hulle belangrike kunsmuseums besoek en oor vele sake van openbare belang indringend gesprek voer. Hulle raak besonder aangetrokke tot mekaar. Lewenslange samewerking en korrespondensie het tussen die twee kunsliefhebbers ontstaan.

Uit die Engelenburg-dokumente kry ’n mens ook bevestiging van die besonderse vrou wat Marie Koopmans-De Wet was. Daar is briewe wat handel oor haar insamelings ten bate van die Boerevroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe, hoe sy dit versprei het, watter hulp sy van Engelenburg ontvang het, en haar korrespondensie met Emily Hobhouse.

Met Paul Kruger se dood in 1904 stuur Marie ’n brief “Aan mijnen broeders en zusters in de Transvaal”. Oor Paul Kruger skryf sy: “Paul Kruger, lewend, was een kracht. Paul Kruger, gestorven in den vreemde, is een begeesterd kracht. Onze heengegane broeder zal thans men hoor ons allen zijn, zijn voorbeeld as Christen, als held, als martelaar.”

Haar begrafnis in Kaapstad in 1906 was ’n besonderse gebeurtenis. Oud-president M.T. Steyn het die huldigingsrede gelewer by die begrafnisdiens, gelei deur prof. Adriaan Moorrees van die Kweekskool op Stellenbosch, terwyl die rede by die graf deur prof. I.J. Marais gelewer is.

’n Ander persoonlike vriend van haar, F.S. Malan, redakteur van De Zuid-Afrikaan Verenigd met Ons Land het na haar verwys as “Vorstin haar volks”. Op 13 November 1905, toe sy reeds besef het dat die dood naby is, het sy versoek dat daar geen huldebetuigings by haar graf gelewer word nie en geen blomme of kranse op haar graf moes wees nie. “God alleen weet hoe gering mijn beste pogingen waren...Mijn volk heb ik lief gehad en getracht voor te leven.”

Sy was een van die stigters van die tydskrif De Goede Hoop, ’n groot ondersteuner van “Onze Taal”. Jan Hendrik Hofmeyr het haar beskryf as “’n vrouw soos Zuid-Afrika geen tweede heeft geleverd...Aan zeldzame fierheid, moed en vasberadenheid (hoedanigheden die uit haar heel imposante houding en fonkelende ogen spraken) vooral waar dit gold een in bresse treden voor de rechten en vrijheden van haar verongelijkt volk.”

Olive Schreiner het Marie beskryf as “ ’n vrou van besondere intellektuele vermoëns, een wat geen vrees of benoudheid geken het nie, selfs nie tydens die smartlike onderdrukking van die oorlog nie. Sy sal nou en in die toekoms deur alle politieke groepe en alle rasse gedenk word om haar onverskrokke persoonlikheid.”

Louis Botha het haar geëer “om hare daden, waaruit menslievendheid en patriotisme warm en diep spreken”, en genl. Jan Smuts het haar bestempel as “een inspirerend figuur op Afrikaans gebied in de Kaap- kolonie”. In ’n telegram aan Engelenburg het Smuts soos volg oor haar getuig: “Wie die haar gekent heeft, kan haar nooit vergeten! – De tedere sympathie in alle leed, dit milde hand in alle nooddrift, zo wel bekend aan Transvaalsche weduween en wezen, dat warme hart voor al wat schoon en edel was, die hartstochtelijke liefde het Afrikaansche volk, die heldenmoed, welke in dagen van storm en gevaar – toe zelfs rotzen wankelden – de Afrikaanssche vlag omhoog hielt aan Tafelbergs voet.”

Malan en Engelenburg (redakteur van De Volkstem in Pretoria) was gedurende 1906 gereelde besoekers by die bedlêende Marie. Op 25 Junie van daardie jaar het sy die behartiging van al haar persoonlike sake aan dié twee opgedra.

Ná Margaretha se dood in 1909 het Malan en Engelenburg begin met ’n openbare veldtog om die Koopmans de Wet-huis met sy inhoud deur die stad Kaapstad of die staat aangekoop te kry. Malan se groot Kaapse invloed was belangrik, terwyl Engelenburg weer op sy beurt in Pretoria sy invloed by Louis Botha sou gebruik om hom by die saak betrek te kry.

Botha het ’n openbare vergadering van alle belangstellendes op 17 Januarie 1913 belê waarop ’n uitgebreide komitee aangewys is om die saak van die aankoop en bewaring van die huis en sy inhoud verder te voer. Botha sou self die president van die komitee wees, en Malan en Engelenburg is ingesluit in die lys van vooraanstaande Kapenaars wat die saak verder sou voer.

In ’n ontmoeting met Botha op 10 Februarie 1913 het die regering ingestem om £3 000 tot die komitee se beskikking te stel om die aankoop te bevorder. ’n Bydraelys is geopen wat ’n bedrag van £2 366-13-10 opgelewer het. Die huis is op 8 April 1913 op ’n openbare veiling vir ’n bedrag van £2 800 aangekoop. Die eiendom is aan die Suid-Afrikaanse Museum oorgedra wat dit moes bestuur en beheer. ’n Komitee is aangewys om uit die 2 089 items in die boedel dit uit te soek wat van werklike historiese en kuns-waarde was. Uit hierdie groep is 356 items uitgesoek en later nog 18 bygevoeg wat nie op die veilingslys voorgekom het nie. Die getal het 188 stukke erdewerk, 69 meubelstukke en vyf plaaslik vervaardigde klerekaste van verskillende style en van verskillende Suid-Afrikaanse houtsoorte, ingesluit. Daarbenewens is ook 13 dak- en muur-kroonkandelare van geelkoper en 26 ander glas- en koper- ware, asook 28 Sheffield-borde, 41 stukke silwerware, 110 items van glas en 147 Chinese en Japanese porseleinstukke by die versameling ingesluit.

Die Koopmans-De Wet-huis is op 10 Maart 1914 geopen as National Collection of Domestic & Local Antiquities. Die Nasionale Monumentekommissie het die huis in 1940 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Vandag staan dit daar as agtiende-eeuse huismuseum, satelliet van Iziko-museums, sonder die erkenning van die rol van die bondgenootskap van drie mense: M.M. (Marie) Koopmans de Wet, F.V. (Frans) Engelenburg en F.S. (Francois) Malan.

  • Prof. Pieter Kapp is besoekende navorsingsgenoot by die departement geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat.
  • Lees nog Erfenis-artikels by www.nuwegeskiedenis.co.za.

Koopmans-De Wet-huis by Strandstraat 35, ’n agtiende-eeuse huismuseum en satelliet van Iziko-museums, was bekend as “Die Strandstraatse Salon” toe Marie en haar suster, Magaretha, daar gewoon het. Die woning is vermoedelik deur die Franse argitek Louis Michel Thibault ontwerp.

Foto: Martiens van Bart