News24

Skiet die (vul iets hier in)

2011-02-19 06:00 AfriForum en Julius Malema blaas vir mekaar in die hof, die sanger Bono word oor die kole gehaal en Steve Hofmeyr gooi sy U2-kaartjies sommer in die Jukskei-rivier. En dít alles oor die frase “skiet die boer”. Maar dra dit nog gewig, het dit ’n invloed en kan dit voortbestaan? vra prof. ALBERT GRUNDLINGH

Die sing van protesliedere in Suid-Afrika is niks nuuts nie. In die laat jare tagtig het die Voëlvrybeweging sy misnoeë teenoor die apartheidsregering met opruiende musiek laat blyk.

Dit het ’n voorspelbaar kille ontvangs vanuit hogere kringe ontlok. Hoewel Voëlvry se musiek beroeringe veroorsaak het, is dit ’n ander vraag of dit die jeug tot ander standpunte oorgehaal het. Dit het, kan aangevoer word, grotendeels gespreek tot diegene wat reeds bekeer was. Die apartheidskonteks waarbinne dit funksioneer het en die feit dat dit ongekende protes in Afrikaans was, het nietemin ’n unieke nalatenskap daaraan besorg.

Deesdae loop die gemoedere hoog oor Julius Malema se uitsprake oor die kulturele erfenis van die ANC se protes- liedere, wat die gewraakte frase

dubul’ ibhunu (“skiet die boer”) insluit. Dié herrie het nuwe lewe gekry met die U2-sanger Bono se stelling dat protesliedere die status van folk songs kan aanneem, maar dat sodanige uit- sprake nie in die openbare domein hoort as dit ander groepe kan affronteer nie. Om nie die konteks in ag te neem nie, is volgens Bono kortsigtig. Maar wat is die konteks?

Dreunsang en vryheidsliedere was in die jare tagtig onder gedeeltes van die swart bevolking aan die orde van die dag en dit was in ’n sekere sin die wapen vir diegene wat geen ander uitlaatklep vir hul woede gehad het nie.

Kill the Boer” het in dié tyd beslag gekry as ’n slagspreuk wat antagonisme teenoor wit onderdrukkers te kenne gee. Maar hoewel die gewraakte woorde ’n dreigende subteks gehad het, was dit eintlik weinig meer as leë retoriek. Dit was ’n element van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe, se sogenaamde “gewapende propaganda” en dit spreek van die uittartende bravado wat destyds deel van die ideologiese stryd was.

Gegewe die omstandighede van die tyd, het dit sin gemaak. Maar in ’n breër verband moet die relatiewe belangrikheid van vryheidsliedere, protesoptogte en die rol van Umkhonto in die verbrokkeling van apartheid geweeg word teen ander faktore soos die ineenstorting van kommunisme, sanksies, die kreeftegang van die ekonomie en die verandering in leierskap van P.W. Botha na F.W. de Klerk. Die slotsom? In konkrete terme het die gewapende stryd mindere gewig gedra.

Maar sulke serebrale oorwegings het nie die populistiese aanklank wat Malema verlang of wat hy hoegenaamd verdiskonteer nie. Vir hom gaan dit oor die ANC wat die stryd deur sy eie aksies gewen het. Daar is ook hier ’n skakel met die ANC se gebrek aan ’n roemryke militêre verlede wat tans verdoesel word deur ’n gewapende propaganda-diskoers van weleer waarin terminologie soos “kader” en “ontplooiing” kwistig rondgestrooi word. “Skiet die boer” sluit hierby aan.

Malema se slagspreuk word dikwels met die aantal plaasmoorde in die land in verband gebring. Ofskoon die gebruik van uitdagende retoriek in ’n potensieel plofbare situasie kortsigtig is, bly dit ’n netelige kwessie om ’n direkte verband tussen plaasmoorde en Malema se uitspraak te lê. Vele faktore kan tot plaasmoorde lei. Malema kan hoogstens daarvan beskuldig word dat hy ’n onverkwiklike stemming skep – belangriker in dié verband is die ongebonde kriminaliteit in die land. Dit is problematies om te beweer Malema se woorde was bepalend in die optrede van diegene met misdadige neigings of oormerke.

Protesliedere het ’n beperkte rakleeftyd. Soos die konteks verander, vind die liedere minder aanklank.

Hulle word eenvoudig deur die tyd ingehaal. Dit kan gebeur dat protesmusiek patroonmatigheid vertoon en telkens op ’n eiesoortige wyse by ’n veranderende konteks aansluit. Waar Voëlvry in die jare tagtig anti-apartheid-sentimente verteenwoordig het, het ’n nuwe ontwortelde en ontgogelde konteks onder sekere Afrikaners tot die gewildheid van die nihilistiese Fokofpolisiekar bygedra.

In teenstelling hiermee, is daar in Malema se wêreld weinig sprake dat die protesliedere van die jare tagtig miskien hul doel gedien het en tot die vergetelheid behoort of ten minste aangepas moet word.

Die konteks waarin die ANC hom nou bevind, moet ook in ag geneem word. Terwyl die organisasie die gedagte van ’n onvoltooide rewolusie vertroetel en powere dienslewering en onbevoegdheid probeer wegredeneer, sal die omstandighede meehelp dat Malema se opruiende taal en blaam-verskuiwing steeds as relevant beskou word en ’n populistiese aanklank het. Maar as “skiet die boer” nie meer werk nie en uit pas voorkom wanneer mense geleidelik ontnugter word en hul heersers konfronteer, kan daar straks nuwe protesliedere ontstaan wat die ANC as teiken het ...

  • Prof. Albert Grundlingh is hoof van die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.