News24

’n Dag wat bly spook

2011-07-25 23:00 34 jaar nadat sewe Recces in dié elite-eenheid se donkerste dag aan die Grens dood is, het oud-Recces weer die slagveld Eheke in Angola besoek. Louis Bothma was saam.

Daar was ’n paar sulke donker dae op die Grens. Dae waarop dinge skeef geloop en manne “onnodig” gesterf het. Dae wat steeds bly spook.

Watter oudpolisieman sal 8 Maart 1974 vergeet? Die naakte lyke van vier konstabels wat koelbloedig op die oewer van die Zambezirivier tereggestel is; die patrollieleier, sers. Johan Kühn, tot vandag toe vermis. En wat van Savate? 32 Bataljon se spook. Op 21 Mei 1980 het 15 man by dié klein gehuggie op die wesoewer van die Cubangorivier gesneuwel. Drie weke later het 61 Meg se Ratels in ’n Swapo-basis by Smokeshell vasgery – 13 dooies. En sal die Parabats die dag vergeet toe ’n chopper met 15 man in vlamme reg bo ’n Swapo-basis afgeskiet is?

Maar die Recces – Suid-Afrika se elite-verkenningsoldate – het ook ’n spook: Eheke.

Ek was ’n troep by Infanterieskool toe Rapport op 30 Oktober 1977 berig: “Woeste geveg heen en weer oor die grens”. Vyf van SA sterf en 61 van Swapo. Ek was geskok om te sien Vingers Kruger, broer van sammajoor Rooi John Kruger by wie ek basiese opleiding gekry het, is onder die dooies. Die volgende dag het Die Burger uitbasuin: “Swapo-verliese is veel groter as 61”.

’n Reuse-oorwinning? Meer as tien “terroriste” vir een van ons?

Dit was ver van die waarheid.

Einde 1977 toe ek by 32 Bataljon beland, het ek gehoor sewe Recces, onder andere Vingers Kruger, is kort tevore 20 km in Angola in by ’n Swapo-basis met die naam Eheke doodgeskiet.

32 Bataljon, onder aanvoering van Eddie “Big Daddy” Viljoen, was óók daar – iewers in die bosse suid van Eheke. Buffalo se soldate was die lokaas wat die aandag van die groot Recce-aanvalsmag, wat van noord af ingestap het, moes aftrek. Dit was ’n nare ondervinding. Swapo het Big Daddy-hulle met letterlik alles bestook – van 122 mm-vuurpyle tot wit fosfor.

Maar die Recces, wat middernag met valskerms neergelaat is en moes aanval terwyl die “terroriste” nog slaap, was nêrens nie.

Daar is gesê die lugmag het hulle verkeerd afgegooi; te ver noord van die teiken. ’n Uitputtende staptog het gevolg. Die son het opgekom, sy draai gemaak en begin sak.

“Moet die operasie nie afgelas word nie?” het die Recces op die grond gevra. Daar was geen verrassing nie. Trouens, ’n groep Swapo-vegters het die Recces se spore gekruis en stilletjies al agter hulle aangestap.

“Gaan voort,” het iemand besluit.

Skuins ná 16:00 die middag het die Recces se linkerflank in een van Swapo se swaar masjiengewere vasgeloop – met noodlottige gevolge. Die geveg het nie lank geduur nie. Die Swapo-basis is nie in totaliteit verower en opgeruim nie. Die aanvalsmag het tot in die westelike loopgraaf gevorder en die masjiengeweerstelling ingeneem. Vyandelike verliese is oorskat. Maar Swapo het ook oordryf. Hulle is nié deur “Chileense huursoldate” aangeval soos sommige steeds glo nie. En hulle het slegs sewe aanvallers doodgeskiet, nie 80 nie!

Teen sononder het

choppers die dooies en gewondes kom haal en water gebring. Die dors was verskriklik. Big Daddy-hulle het nader beweeg. Hulle het die Recces, onder aanvoering van Hennie Blaauw, in ’n shana (’n groot oop kol tussen die bosse waar plaaslike bevolking woon) ontmoet. Iewers het honde geblaf. Daar was vure en baie rook. ’n Volmaan het bloedrooi oor die boomtoppe opgekom. Onheilspellend.

Shana Onalumono.

Dit is die naam van die plek in die middel van nêrens, waar die Swapo-basis was wat ons Eheke genoem het. Dit is hier waar ons geselskappie van 12 siele laat Maandagmiddag, 11 Julie 2011, stilhou. ’n Skare nuuskieriges kom aangehardloop.

Wit mense? Boere? Die eerste keer ná al die jare ... ?

Eddie Viljoen is op krukke. Langs hom staan Jack Greeff, ’n Recce wat 34 jaar gelede op die linkerflank was.

“Dit was by sulke bome soos daai wat ek en Hennie Blaauw bymekaar gekom het.” Eddie beduie noord. Sy blou oë blits soos van ouds. Sy hele lyf is hoendervel. Ek skrik. Hy moenie nou iets oorkom nie.

“Dit was by daai boom, net agter die droë boom,” beduie Jack opgewonde.

’n Skraal kêrel met ’n blou oorpak kom staan tussen ons. Sy naam is Reinhard, sekretaris van die hoofman. Hy het in Swakopmund gewerk en praat Afrikaans. Tussen die skare is ’n seun met ’n pyl-en-boog en ’n vrou wat pyp rook. Owambo en Boesman woon hier saam.

“Ek het ’n groep swart mense oor die shana sien aankom. Toe dink ek ons maak weer van voor af oorlog. Ons het nooit geweet 32 Bataljon is aan ons suidekant nie,” sê Jack. Rudolph Burger, een van drie Recces wat in die bosse moes agterbly om die valskerms bymekaar te maak, trek sy oë skrefies. Ek en Koos Moorcroft gaan saam met Reinhard na hoofman Jonas Haushona. Hy’s kaalvoet, rook pyp en dra ’n windmakerige hoed. Ons is baie welkom. Niemand is vir die Boere kwaad nie.

Maar hoe het die wiel nie gedraai nie? Destyds het ons gemaak wat ons wil. Nou moet ons die plaaslike bevolking toestemming vra.

Ons kamp onder die bome langs die ou Swapo-basis. Koos Moorcroft laat die Recces by die huis per satellietfoon weet: “Ons is in Eheke!”

’n Ellelange nabetragting. Wie is te blameer vir Eheke?

“Skryf nou vir eens en altyd die waarheid,” sê Eddie driftig.

Vingers wys na die Recce-bevelvoerders by die taktiese hoofkwartier op Eenhana.

Hulle was eenkant in hul eie tent doenig. Hulle het hul eie operasie binne ’n groter operasie (Operasie Kropduif) gedryf en nie die bevelvoerende generaal te alle tye van hul besluite ingelig nie. Toe dinge sleg afloop vir die Recces, het hulle die skuld op die generaal gepak.

Maar die Recces by Eheke was manne van staal. Jack onthou: “Toe ons nog sit en hanna-hanna, het sammajoor F.C. van Zyl opgestaan en gesê ons moet hierdie ding oorkry.” Kort daarna was hy dood.

Hoofman Haushona neem ons die volgende oggend deur die ou Swapo-basis. “Hier buite die kamp was die kookplek. Die loopgrawe was hier, die mediese pos daar. Hier was ’n groot geweer; Swapo se geweer. Die Boere het by die geweer gekom, hom net gekyk, maar nie gevat nie. Hy was te groot.”

Geroeste blikke, ’n medisynebotteltjie, stukke van ’n ammunisiekis. Jack hou die stertvin van ’n Suid-Afrikaanse 60 mm-mortierbom omhoog. Al wat van die Boere by Eheke oorgebly het?

En Swapo?

Iewers teen ’n boomstam, baie dof, staan daar nog: “Swapo Onalumono”.

Maar soos die Boere, is ook Swapo terug na hul eie land. Ons het ons Swapo-vriende in Namibië saamgenooi Eheke toe. Nie één kon sy weg oopsien nie; kon ook nie vir ons die (ses?) name van hul mense gee wat hier gesneuwel het nie.

Teen sononder is ál Onalumono se mense by ons kamp. Ons deel klere, lekkers en skryfgoed uit. Eddie gee sy baadjie aan die hoofman. Op ’n vlekvrye staalkruis staan die name van ons helde. Die kruis is vir almal, ook vir Swapo, verduidelik ek. Mike Beyl spyker die kruis hoog teen ’n boomstam vas.

Die volgende oggend is ons op pad huis toe. Eheke het nooit aan ons óf aan Swapo behoort nie. Dit behoort aan Onalumono se mense. Eenvoudige mense wat 34 jaar gelede moes wegkruip toe die skietery uitgebreek het. Maar hoede af vir ons dapper helde.

Hulle is die engele wat ons teruggebring het om die eintlike wenners te kom ontmoet: Jonas Haushona en sy mense.

  • Bothma is ’n skrywer. Sy jongste boek is Anderkant Cuito. ’n Reisverhaal oor die Grensoorlog.

’n Kruis met die name van die gevalle Recces wat vroeër vandeesmaand by Eheke in Angola opgesit is.

Jonas Haushona, hoofman van Shana Onalumono.