Volgens die Wet op Geboortes, Sterftes en Huwelike van 1963 is fetusse eers ouer as 26 weke ná bevrugting lewensvatbaar en dus geregtig op ’n doodsertifikaat.
Sonder ’n doodsertifikaat kan ’n kind nie begrawe word nie en word hy as mediese rommel op ’n hoop verbrand.
Emosionele trauma
Verskeie sielkundiges wys daarop dat die verlies aan ’n ongebore kind net so erg is as die verlies van enige ander geliefde.
“Die meeste ouers ontwikkel reeds gedurende swangerskap ’n sterk band met die ongebore kind. Hulle het al op ’n naam besluit en weet lank voor die geboorte wat die geslag is en daarvolgens word die babakamer voorberei,” sê dr. Ester de Beer, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein.
Volgens Jorgan Harris, ’n hipnoterapeut van Kaapstad, is die dood van ’n ongebore kind soms vir ’n ma erger as dié van iemand anders omdat sy nie so ’n noue verhouding met mense in haar nabye omgewing het soos met die mensie wat in haar lyf gevorm het nie.
Michelle Goosen, skoonsuster van die gholfkampioen Retief Goosen, is deur dié pyn. Sy het ná ’n swangerskap van net 17 weke spontaan in kraam gegaan weens ’n vergroeisel in haar baarmoeder. Haar dogtertjie het nie die geboorte oorleef nie.
“Dit was ’n volmaakte kindjie, en as ek nou, meer as tien jaar later, moet dink sy is saam met mediese rommel verbrand, is dit vir my baie erg.”
Goosen het tot sewe jaar ná die geboorte nog ’n behoefte gehad om die kind vas te hou en meen sy sou vinniger en makliker kon afskeid neem as sy toegelaat is om haar kind te begrawe.
Harris verstaan daardie gevoel en sê die ma “gaan deur presies dieselfde fases van rou as wat mens gaan met die verlies van iemand na aan jou”.
“ ’n Begrafnis bied ’n geleentheid om finaal afskeid te neem, om te sê wat gesê moet word en aan te beweeg.”
Die regsaspekte
Prof. Jerold Taitz, ’n regsdosent aan die Universiteit van Kaapstad, en Sheila Clow van die mediese skool aan die Universiteit van Kaapstad, wys egter in ’n dokument genaamd “Effect of the Legislative Definition of the Terms ‘Stillborn’ and ‘Viable’?” (1983) op die problematiek rakende die regsituasie.
Volgens dié dokument is dit nie altyd moontlik om akkuraat te bepaal hoe oud ’n fetus is nie. Dit maak ook nie voorsiening vir sekere geloofsgebruike wat betref die afsterwe van ’n geliefde nie.
“Talle ouers dring vanweë hul geloofsoortuiging daarop aan om ’n begrafnis vir hul doodgebore baba te hou, ongeag die stadium van swangerskap,” sê Sonja Smith, ’n begrafnisondernemer van Centurion.
Die kwessie van lewensvatbaarheid verskil boonop van land tot land, sê sy.
“In Amerika word ’n fetus ná 20 weke van bevrugting as lewensvatbaar beskou. Met die gevorderde mediese tegnologie van vandag is dit moontlik dat ’n fetus op ’n vroeër ouderdom kan oorleef.”
Iets om na toe terug te gaan
Smith voel ’n miskraam of doodgeboorte is die mees onerkende verlies wat daar is, juis omdat ouers geen lykie het om op die toepaslike manier van afskeid te neem nie.
“In Engeland hou ’n paar begraafplase een maal per kwartaal ’n seremonie vir ouers wie se babas doodgebore is, ongeag die stadium van swangerskap, waartydens daar ’n boom geplant word. Dan is daar ten minste ’n simbool van die kind se lewe,” het Smith gesê.
Ook Goosen voel dit is nodig om behoorlik totsiens te sê, of dan ten minste iets te hê om na terug te gaan. “Daar is nie eens vir my kind gebid nie.”
Goosen voel ouers moet die keuse gegun word om hul kinders te begrawe. “In my oë het ek ’n kind gehad. Ek wil afskeid kan neem.”