News24

Armste skole vaar swakste

2011-06-30 00:46 Mpumalanga, Limpopo en Noordwes se laerskoolkinders het vanjaar die slegste in die departement van basiese onderwys se nasionale assesseringstoetse gevaar.

In dié drie provinsies het ’n groot meerderheid van kinders nie die vereiste vaardigheidsvlakke vir geletterdheid en gesyferdheid behaal nie.

Me. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het eergister gesê die uitslae weerspieël matriekuitslae en word deur sosiaal-ekonomiese faktore soos armoede beïnvloed. Die departement gaan die uitslae volgens haar nie gebruik om op sukkelende skole te pik nie. Skole in armer gebiede (kwintiel 1 tot 3) gaan eerder met mekaar vergelyk word om vas te stel hoe meer suksesvolle arm skole hul beperkte hulpbronne optimaal bestuur.

Luidens die verslag het 71% van Mpumalanga se armste skole (kwintiel 1) se gr. 6-leerlinge nie die vereiste syfervaardighede behaal nie. 5% van dié skole het die vaardighede egter wel onder die knie gekry. Die departement gaan dus probeer vasstel wat daardie skole met soortgelyke hulpbronne “reg” doen. 29% van dié provinsie se rykste skole (kwintiel 5) het die vereistes vir die gr. 6-gesyferdheidstoetse behaal en 29% het nie.

In Limpopo was daar geen skole in kwintiel 1 (die armstes) wat gr. 6-vereistes vir gesyferdheid behaal het nie, terwyl alle kwintiel 5-skole (die rykstes) dit behaal het.

In Noordwes het geen kwintiel 1- skool geletterdheidsvereistes vir gr. 6 behaal nie.

Dit het geblyk hoe armer skole is, hoe meer leerlinge nie op peil is nie.

Ses miljoen leerlinge is in Februarie by die assessering betrek en dit toon dat gr. 3- en gr. 6-leerlinge onderskeidelik gemiddeld 35% en 28% vir geletterdheid en 28% en 30% vir gesyferdheid behaal het.

Motshekga het gesê die departement gaan voort met planne om prestasiekontrakte met alle skoolhoofde en hul adjunkhoofde te sluit omdat sy meen bestuursprobleme speel ’n kernrol in swak prestasie.

Die nasionale assesseringstoetse en matriekuitslae, asook skoolhoofde se vermoë om hul personeel te bestuur en te monitor, sal maatstawwe vir hul prestasiebeoordeling wees.

Die departement meen ook swak infrastruktuur beïnvloed die vermoë om te leer en het begroot om 85 modderskole en nog 246 ander onvoldoende strukture wat as skoolgeboue dien op te knap of te vervang.

Die plan is om water aan 807 skole, sanitasie aan 391 en elektrisiteit aan nog 286 te voorsien.

Die departement het mnr. Ronnie Swart, voorheen departementshoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, aangestel as hoof van ’n nuwe eenheid vir beplanning en oorsig wat toesig moet hou oor dié ingrypings.

Persentasie van skole wat nie geletterdheidsvaardighede baasgeraak het nie
  Gr. 3 Gr. 6
Wes-Kaap 41 41
Oos-Kaap 45

67
KZN 48 68
Vrystaat 50 80
Gauteng 53 54
Limpopo 61 85
Noordwes 63 83
Noord-Kaap 66 70
Mpumalanga 67 85