News24

SA duikers help meer oor grotte uitvind

2012-08-10 21:39 ’n Groep van 11 ervare Suid-Afrikaanse tegniese en grotduikers het onlangs van ’n suksesvolle ekspedisie na die Chinhoyi-grotkompleks in die Ma-konde-distrik in die noorde van Zimbabwe teruggekeer.

Johan Boshoff, die ekspedisieleier en redakteur van die tydskrif Divestyle, het gesê baie min is oor dié grotkompleks bekend en die duikpoging het gevolglik in ’n navorsingsekspedisie ontaard.

“Ons was die grootste duik-ekspedisie wat nóg die Chinhoyi-grotkompleks besoek het en ons het baie aandag onder die Zimbabwiese owerhede en media getrek,” het Boshoff gesê.

“Beamptes van Zimbabwe se nasionale parkeraad, die polisie en selfs die intelligensiediens het daar opgedaag.

“Hulle het baie onbeantwoorde vrae oor die onderwater-dele van die grot gehad, so ons het toe maar tydens ons duike navorsing begin doen om van dié vrae te beantwoord.”

Die Chinhoyi-grotkompleks, sowat 135 km noordwes van Harare, se bodem is nog nooit gevind nie. Duikers het glo al tot dieptes van meer as 150 m daarin afgeduik.

Boshoff en van sy mededuikers het tot omtrent 110 m kon afduik. Hy glo die grot kan tot 200 m diep wees.

“Die Zimbabwiërs weet amper niks van die grot nie. Hulle het gedink die hoofgrot verdeel in drie en dat daar sterk onderwaterstrome is. Ons het bewys dié gerugte is nie waar nie.”

Boshoff is besig met ’n verslag en ’n gedeeltelike kartering van die grotkompleks.

“Ons is deur die owerhede genooi om met klein afstandbeheerde robotiese duikbote (ROV’s) terug te keer om die grot behoorlik te verken, so ons hoop om dit volgende jaar te kan doen.”

Boshoff het agt jaar terug die eerste keer in dié grot afgeduik en het toe al ’n grootskaalse ekspedisie daarheen begin beplan.

Leon Rademeyer, ’n Medihelp-woordvoerder en een van die duikers, het gesê die ekspedisie was ’n logistieke uitdaging.

“Daar is nie krag of gas-fasiliteite nie, so saam met al die duiktoerusting moes ons twee kompressors in ons vyf dubbelkajuit-bakkies met sleepwaens saamvat, sodat ons ons eie mengsels van suurstof, stikstof en helium kon maak en die gasbottels self kon hervul.”

Boshoff het gesê die grootste uitdaging was om genoeg helium, waarsonder duike dieper as 60 m onmoontlik is, in Zimbabwe te kon kry.

“Afrox Suid-Afrika het van ons ekspedisie gehoor en vir ons gereël om helium in Harare te kon kry. Sonder hulle sou ons ekspedisie gevou het,” het hy gesê.