“Ek sal nooit weer kan dig nie!” het hy uit desperaatheid oor die verlies uitgeroep.
Die “kind” wat verlore is, is die byna voltooide manuskrip van Swaels kom dié jaar later, wat sy agtste en hy glo beste digbundel nóg sou wees.
Dit was op sy skootrekenaar wat die vorige nag uit sy studeerkamer in Faerie Glen, Pretoria, weggedra is deur ’n dief.
Dié het diefwering van ’n eetkamervenster oopgebuig en is ook vort met sy vrou se skootrekenaar en met ’n TV-stel.
Oor die TV-stel en die rekenaars is hy nie besorg nie, selfs nie oor die jongste weergawe van ’n roman waaraan hy werk wat ook op die rekenaar was nie.
Maar die gedigte! Dit is onvervangbaar.
Hy wou ’n paar dae gelede ’n uitdruk van al die gedigte maak, maar het nie, sê Vos.
Hy wou die manuskrip nog elders stoor, maar het nie.
Net van een of twee van die gedigte het hy afskrifte op papier.
Sommige van die verse – sowat 20% van die bundel, skat hy – het hy aan letterkundiges vir kommentaar gestuur. Hy hoop hy sal by hulle afskrifte daarvan kan kry.
Maar die res, sê hy, sal hy nooit kan oorskryf nie. En die terugvoering wat hy gekry het oor die klompie gedigte wat hy wel met ander mense gedeel het, is dat dit sy beste verse ooit is.
Daarom hoop hy desperaat dat die polisie, of enigiemand wat sy rekenaar dalk iewers kry, dit aan hom sal terugbesorg.
“Ek voel soos iemand wie se tong afgesny is,” sê Vos.
Die heel laaste gedig wat hy vir die bundel geskryf het, is een van enkeles waarvan hy ’n afskrif op papier het.
Die titel is “As ’n kind sterf” en Vos sê dis hoe hy ná die verlies van sy manuskrip voel: asof sy heelal stilstaan, want sy kind het gesterf.