News24

Geloof, hoop...en sakke vol geld

2010-10-23 06:00 Dis dalk geen wonder daar’s moeilikheid nie. Dit is immers ’n gekke waagstuk om vandag ’n koerant te begin, sê TON VOSLOO.

Om ’n nasionale dagblad in hierdie dag en jare te lanseer, is ’n gekke waagstuk. Dus, good luck to The New Age, al verskil ’n mens ook van sy aangekondigde politieke uitgangspunt.

As ’n mens kyk na die klompie koerante wat in die afgelope jare met groot optimisme begin is en ’n vroeë dood gesterf het, gaan die bestuur en redaksie nog harde klippe kou, hul Heiland leer ken en baie dae bid om sukses.

Dit is min of meer hoe dit gaan in die boeiende bedryf van die publikasiewese: Al die somme wat die syfermense van verwagte verliese maak, moet jy verdubbel. Die verwagte jaar van winsgewendheid moet jy ook verdubbel.

Dit is min of meer die Wet van die Joernalistiek.

Daarby kom ’n bose boel uitmergelende frustrasies: Die drukkerye is gewoonlik nie betyds gereed nie, die verspreidingsnetwerk loop uit op ’n fiasko, en as jy dink jy gaan 100 000 koerante op dag een verkoop, moet jy sowat 80 000 van die som aftrek.

Kom ons gebruik Beeld 2 as model.

As voorgeskiedenis: Die Nasionale Pers (nou Naspers) het Beeld 1 in 1965 gestig.

Dit was ’n nasionale Sondagkoerant, gesetel in Johannesburg en met die legendariese Schalk Pienaar as redakteur. Hy was omring met befaamde koerantmense, maar net een het werklik ondervinding van Sondagjoernalistiek gehad.

Die Beeld, die voornaamwoord was toe nog in gebruik, het ondanks ’n boel tegniese probleme van meet af koers ingeslaan.

Sy sukses was te danke aan ’n gatvol-faktor onder baie Afrikaanstaliges: Hulle was toenemend in verset teen die geslote, verkrampte koers waarmee die Nasionale Party die land onder Hendrik Verwoerd gelei het.

Die Beeld gaan in 1970 op in Rapport ná ’n huwelik met sy teenstander, Dagbreek en Landstem, ook ’n agglomerasie. Rapport was van dag een af ’n reuse-sukses en vier vanjaar sy veertigste verjaardag.

Hef aan het voorgelê met Beeld 2, wat op 16 September 1974 deur ’n optimistiese Naspers as ’n dagblad van stapel gestuur is.

Daar is hoë projeksies van inkomste en verkope gemaak. Maar om op dag een te verskyn, moes ’n bende Naspersers die produk in die haglikste omstandighede in Doornfontein moontlik maak.

Om geld te bespaar, is ’n ou meubelpakhuis in ’n propperse koerant-omgewing omskep. In die weke voor lansering het joernaliste in snerpende koue in die halfdonker, onvoltooide gebou met lampies, flitse en soms kerse gesukkel om te werk.

Die trappe was halfklaar en die hyser het nie gewerk nie. Alles was raap en skraap om gereed te wees vir ’n vroeë geboorte.

Die opposisie het hul tande daar buite geslyp. Reeds in die mark was, aan die Engelse kant, The Star, The Rand Daily Mail en The World.

Dit was ’n grootse gesukkel om die eerste uitgawe van Beeld persklaar te kry, maar die koerant het die rolpers gehaal. Hier word die eerste uitgawe gebore.

Aan die Afrikaanse kant was Die Transvaler en Die Vaderland.

Marius Jooste van Perskor het in Pretoria die nuwe opposisie, Oggendblad en Hoofstad, begin om Beeld die hoof te bied.

’n Bloedige geveg het gewag. Die spanning het so hoog geloop dat van ons manmoedige (oormoedige?) joernaliste wat dit gewaag het om in Vegkop, Perskor se naaste kroeg, ’n dop te gaan maak, in vuisgevegte oor lojaliteite betrokke geraak het.

 

Ons was baie trots op Pirries (wyle Johan Parreira, ’n oudpolisieman en toe misdaadverslaggewer) wat sy vuiste goed kon gebruik.

In die hoofredaksie was daar optimisme. Ons sou 140 000 koerante per dag verkoop en die Afrikaanse mark huidjie en muidjie verower, sommer net so.

Ons het weddenskappe gemaak oor waar ons ná die eerste dag se verkope (wat vanweë baie reklame en verwagtinge hoog sou wees) sou stabiliseer.

Ek het gesê dit sou by 28 000 trek en het baie suur kyke gekry.

Maar ek het die Rand beter geken as die Kapenaars wat aan die koerant gewerk het, want ek was toe al 11 jaar lank daar bedrywig. My credo was: Die koerant moet sesuur dieoggend op ’n intekenaar se stoep wees. Maar ons sou eers ’n intekenarebasis moes bou.

Dag een se verkoopsyfer was ’n nogal goeie 104 000, as ek reg onthou.

En toe begin dit val: 40 000, 25 000, tot by 13 000, dink ek. Verkope het toe by so 19 000 gestabiliseer. Dit was ’n ramp. Deur middel van industriële sabotasie het die inligting by ons mededingers uitgekom – en het hulle nie gekraai nie.

Beeld het egter stadig maar seker begin terugveg. Die syfers het stadig geklim tot by sowat 37 000. Die Transvaler se verkoopsyfer was sowat 38 000 toe Beeld begin is, maar dié syfer het wonderbaarlik tot byna 50 000 gelig.

Dit was ’n skok toe Schalk Pienaar ná drie maande in 1975 vanweë swak gesondheid as redakteur moes uittree. Johannes Grosskopf het die leisels geneem, en ek het in 1977 as redakteur oorgeneem. Grosskopf het aande op sy knieë met

rekenaaruitdrukke van verkooppatrone deurgebring en die sirkulasie-afdeling verwens oor sy onvermoë om punte waar die koerant uitverkoop was, betyds aan te vul.

Hy kon wel in later jare ’n behae daarin skep dat Beeld vir Die Transvaler met werklike verkope ver verbygesteek het, maar Perskor het die stryd verleng deur bedrog te pleeg toe hy duisende koerante in ’n ou mynskag afgesmyt en dit as sirkulasie getel het.

Beeld het hergroepeer en ons redaksiebeleid was: Slaan die harde nuus hárd.

Die koerant het naam gemaak met sy skerp nuusdekking en vreeslose politieke aanslag. Ons het ons vlag aan die verligte maspaal gespyker.

Ons het, byvoorbeeld, nuus gemaak toe ’n dapper vroulike verslaggewer haar tydens 1976 se onluste swart gesmeer en met ’n Volkswagen na Soweto gery het om die nuus te gaan haal.

Sy het haar lewe gewaag en ek moes haar wys op haar ondeurdagte optrede, maar haar nietemin op die skouer klop vir die inisiatief wat sy geneem het.

Ons het ook ’n wenresep gevind in ’n nuwe speletjie genaamd Minipot, wat derduisende nuwe lesers gelok het.

Dit het nietemin tien jaar geneem voordat Beeld winsgewend geword het. Al vier Perskor se dagblaaie het uiteindelik gevou en die sogenaamde persstryd het tot ’n einde gekom.

Beeld is steeds die enigste dagblad anderkant die Vaalrivier. Die koerant is vandag ’n ster onder dagblaaie en dit voltooi Naspers se gedugte drietal: Beeld, Volksblad en Die Burger.

Met Grootboet Rapport op Sondae is daar genoeg om vir Afrikaanse lesers se koerantdieet te sorg – en dan is daar nog boonop Son en Sondag.

The New Age wil nou op hierdie terrein kom veg – en daar is boonop soveel nuwe elektroniese mededinging in die mark. The New Age moes al op die rak gewees het, maar die bekendstelling van dié dagblad is pas vir ’n tweede keer uitgestel.

 

’’Die spanning het so hoog geloop dat van ons joernaliste in vuisgevegte oor lojaliteite betrokke geraak het.

Jongmense versmaai die gedrukte media, die internet is über alles. Maar as ’n getoë, inkdeurdrenkte koerantmens glo ek tog daar sal altyd ruimte wees vir ’n topklas-koerant.

Hoeveel jare van stryd en meedoënlose mededinging sal nog vir The New Age voorlê? Die base sal hul geldsakke se inhoud moet verdriedubbel!

  • Ton Vosloo is die nie-uitvoerende hoof van Naspers, die grootste mediamaatskappy in die land.