News24

Brieweboek word kulturele geheue

2013-03-09 07:00

STELLENBOSCH. - “Waarom skryf ek aan die pers? Omdat ek in die nag wakker gemaak word deur ’n stem, en ek uit die Bybel weet dat jy jou nagtelike stemme nie durf ignoreer nie. Ek staan op, meesal om drie in die nag, en skryf ’n brief aan die pers. In hierdie geval handel dit oor moedertaalverontregting in die Nuwe Suid-Afrika, en ’n nuwe Angli­seringsbeleid wat die vroeë Engelse bewindhebbers aan die Kaap na amateurs laat lyk.”

Bostaande aanhaling is ’n voetnoot by ’n brief in Mits dese wil ek vir jou sê, Briewe van Hennie Aucamp. Ná 60 boeke skryf Aucamp steeds met die hand. Met hierdie boek word hy as gewaardeerde briefskrywer aan die woord gestel. Dié keurige hardebandboek wat deur Petrovna Metelerkamp van Hemel en See-boeke versorg en ingelei is, is gister op die US Woordfees bekend gestel by wyse van ’n gesprek tussen Aucamp en die digter-vertaler Daniel Hugo.

Die boek bestaan uit korrespondensie wat ’n verskeidenheid onderwerpe byeen bring, en is geskryf van 1958 tot 2011.

Op ’n vraag van Hugo verduidelik Aucamp die verskil tussen ’n brief en dagboekinskrywing dat “vir ’n brief pas jy dit aan by die gehoor, by ’n dagboek is jy op een ontvanger ingestel”.

Die briewe gaan veelal oor skryfwerk, oor die kortverhaal, gedigte en liedtekste. ’n Bykomende vonds van die brieweboek is die verduidelikende aantekeninge.

In haar voorwoord noem Metelerkamp dat vir Aucamp daar ’n simbiose is tussen sy dagboeke en sy briewe, “nie net dokumente van sy lewensgang en optekening van herinnerings nie, maar ook ’n groot stuk sosioliterêre en sosiokulturele geskiedenis”.

Hugo het daarop gewys dat dit danksy Aucamp se aandag aan die woordeskat van Afrikaans is dat sekere woorde algemeen gangbare munt word.

“Ek het in ’n laat stadium, in die negentigerjare, begin kopieë hou van briewe, vir ingeval die brief nie opduik nie,” sê Aucamp. “In die negentigerjare het ek intenser begin skryf, die akademie was verby en ek het gevoel ek wil die soort briewe skryf aan mense wat dit toekom”. Die boek is ’n versameling wat spreek van wat hy noem “briewe wat geskryf is om weer en weer gelees te word”.

Die publikasie is belangrik vir die brieweboek in Afrikaans, onder meer as ’n soort kulturele geheue. Dit sit die werk voort wat gedoen is met briewe van onder andere Audrey Blignault, Peter Blum, Uys Krige, WEG Louw en NP Van Wyk Louw.