Share

Al wagtend op ons ondergang

Lester Venter, ’n joernalis-vriend, herinner my dat daar jare gelede in Windhoek, Namibië, ’n bekende joernalis genaamd Smittie, ’n groot ou, was wat altyd kopskuddend gevra het: “Waar is ons, kêrels, waar is ons?”

Hoeveel Suid-Afrikaners vra hulself hierdie einste vraag?

Venter antwoord die vraag as volg: “Ja, ja. Dit is waar ons is. Ons wag om te sien wat oor die bult kom. Ons hoor al die geraas. Ons verbeel ons dit is die halfmens-stiefkind van Gog en Magog. Ons hoor hoe knor en brul hy, hoe sleep hy sy mank been. En ons is bang.”

Google ’n mens Gog en Magog is dit volgens Islamitiese tradisie “Seuns van Adam” – menslike wesens wat losgelaat gaan word wanneer ’n nasie terugkeer na ’n dorp wat verwoes is en waaruit hulle verban is.

Hulle sal by hul loslating oor groot mag beskik, korrupsie in die samelewing veroorsaak en uiteindelik die meeste na ’n brandende hel lei.

Dit herinner ’n mens aan Yeats se “The Second Coming”:
And what rough beast, its hour come round at last,
Slouches towards Bethlehem to be born?

(Pleks van Bethlehem lees die Uniegebou, Pretoria.)

Ek het die afgelope week meer as my normale kwota e-pos gekry (gebruik mense nog telefone?) en hierdie is dus ’n ietwat persoonlike, eksentrieke rubriek.

Tussen hierdie boodskappe was een van my ou vriend (prof.) Hermann Giliomee. Raai wat vra hy? “Waar sal ons hulp vandaan kom?”

Hierdie vraag, van ’n uitmuntende historikus, is duidelik nie net aan my gerig nie, maar aan almal wie dit mag aangaan.

Ek het ’n antwoord gegee wat terselfdertyd pessimisties én optimisties is:
Die pessimistiese antwoord is dat die land ’n Götterdämmerung (mite oor die uiteindelike vernietiging van die gode in ’n geveg) nodig het.

Suid-Afrika moet op sy knieë gedwing word voordat die land weer regop kan staan. Daar moet ’n suiwering van hierdie korrupte en toenemend gewelddadige land wees.

Intussen kan burgers ’n vesting skep van waar hulle die finale, vernietigende stryd tussen die gode kan aanskou. Die gode is natuurlik die groot spelers in die feller as ooit binnegevegte in swart politiek.

Die optimistiese antwoord is dat sodra die strydlustiges uitgeput is, ’n nuwe Suid-Afrika gebore kan word. Oudpres. Nelson Mandela was voortydig toe hy die Reënboognasie verklaar het, nes oudpres. Thabo Mbeki voortydig die Afrika-renaissance uitgespreek het. Verskille moes eers bygelê word.

Hierdie spel ontvou nou op ’n ongelooflike manier:
Die 37 miljoen Afrikane, gewillig of ongewillig, is in ’n ringmuur byeengeroep deur hul leiers ter voorbereiding van die interne geveg, terwyl die 10?miljoen “minderhede” (wit mense, bruin mense, Indiërs) toekyk – geraak, maar nie deelnemers nie.

Stel jou ’n groot amfiteater voor om ’n prentjie van die slagveld te kry. Die stryders is byeen, die groot deure is gesluit. As pres. Jacob Zuma steeds president is, sal hy voorsit soos Caesar en op die uitkoms wag, wetend dat sy eie lot op die spel is.

Politieke drif is ongetwyfeld aan die toeneem in Suid-Afrika. Wat vir ons voorlê, kan ’n soort Afrika-“burgeroorlog” wees. Dis wel steeds monderlings, maar het die potensiaal vir rowwe spel.

As daar ’n optimistiese uitkoms is, sal daar ’n geskiedkundige ontsnapping wees uit die reuse-kringloop waarin Afrikane vasgevang is (of hulself vasgevang het), ’n warm verwelkoming van die “minderhede” en die begin van ’n herskryf van die ANC se 100 jaar oue politieke draaiboek.

Dit sal ’n revolusie wees – ’n beskrywing waarteen die ANC nie beswaar kan aanteken nie omdat dit sy eie, sentrale doelwit van ’n nasionale demokratiese revolusie sal verklaar.

Wie sal buitendien ’n gewelddadige revolusie bo ’n verbale een verkies?

Tog, histories het revolusionêre drif dikwels teen homself gedraai, sy eie kinders verslind en van sy eie gif gesterf. So ’n ritueel van selfkannibalisme behels altyd vraatsige vergrype aan korrupsie, misdadigheid, outoritarisme en weelde.

Dis egter ’n belangrike vraag: Kan die leiers van die stryders hul volgelinge (en hulself) dissiplineer in die stryd waarvoor hulle nou hul voetsoldate bymekaar hark – van lae ANC-takke en geaffilieerde vakbonde tot die veldmaarskalke en generaals self?

Daar is min gerusstelling dat die leidende stryders nie tweegesigte sal wees nie. Mnr. Zwelinzima Vavi, Cosatu se sekretaris-generaal, het gesê: “Ons stuur af op ’n roofdierstaat waar ’n magtige, korrupte en demagogiese elite van politieke hiënas die staat toenemend gebruik om ryk te word.”

En tog, toe Cosatu se lede gestaak het en op skandalige wyse voor hospitale en skole betoog het, het Cosatu anderpad gekyk.

Sover dit die ANC-jeugliga aangaan, moet ’n mens dalk vra: Is dít waar Yeats se “rough beast” rusteloos wag?


In Februarie 2008 het ek in hierdie rubriek verwys na ’n wonderlike gedig getiteld “Waiting for the Barbarians” deur C.P. Cavafy, wat in 1931 dood is. Sonder om hoegenaamd aan Suid-Afrika te dink, het hy presies vasgevang wat nou besig is om in die land te ontvou. (J.M. Coetzee se klassieke 1980-roman is ook getiteld
Waiting for the Barbarians).

Venter het Cavafy se gedig in e-pos as volg bespreek:
“Wat my fassineer, is die vreemde, hipnotiese staat waarin die oppassers van die kasteel verkeer wanneer hulle hul lot bepeins.

Die koms van die barbare word beskou as onafwendbaar en alle weerstand syfer weg.

Dis die effek van die haas in die kopligte, gehipnotiseer deur sy naderende dood. Toe hul ryk aan die ondergaan was, het die Romeine eenvoudig dieper gesink in hul see van oordadigheid en morele losbandigheid terwyl hulle gewag het op hul ondergang – die koms van die barbare.

“Vir ’n tyd lank is dít wat my gefassineer het omtrent die Zuma-administrasie: sy vreemde passiwiteit.

“Dink daaroor: In ’n land wat skreeu en pleit om radikale ingryping in armoede, werkskepping, opvoeding, misdaad en gesondheid word eenvoudig niks gedoen nie.

“Die heersers vermaak hulself met die (beweerde) plundering van staatskoffers, desperaat om bymekaar te skraap wat hulle kan terwyl die geskreeu van die massas daar buite al hoe harder, al hoe dreigender word.”

In die artikel wat ek in 2008 oor Cavafy se “Waiting for the Barbarians” geskryf het, het ek sy kragtigste reëls uitgelaat:
What are we waiting for, assembled in the forum?
The barbarians are due here today.
Why isn’t anything happening in the senate?
Why do the senators sit there without legislating?
Because the barbarians are coming today.
What laws can the senators make now?
Once the barbarians are here, they’ll do the legislating.


En dis my antwoord op Smittie se vraag: Dít, Smittie, is waar ons nou is.


We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Can radio hosts and media personalities be apolitical?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, impartiality is key for public trust
32% - 463 votes
No, let's be real, we all have inherent biases
68% - 1002 votes
Vote
Rand - Dollar
19.29
-0.7%
Rand - Pound
23.87
-1.1%
Rand - Euro
20.58
-1.2%
Rand - Aus dollar
12.38
-1.1%
Rand - Yen
0.12
-1.2%
Platinum
943.50
+0.0%
Palladium
1,034.50
-0.1%
Gold
2,391.84
+0.0%
Silver
28.68
+0.0%
Brent-ruolie
87.29
+0.2%
Top 40
67,314
+0.2%
All Share
73,364
+0.1%
Resource 10
63,285
-0.0%
Industrial 25
98,701
+0.3%
Financial 15
15,499
+0.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE