Bid werk, of dit werk nie. Wat sê die feite?
As God gebede (soms) verhoor, soos die meeste gelowiges glo, moet dit immers met gelowige gemeenskappe (of ten mense vir dié wat gebid word) beter gaan as met dié waarvoor nie gebid word nie . Anders is daar geen krag in gebed nie. So wat is die feite?
Ds. Cruywagen het onlangs die krag van gebed bevraagteken. Die stortvloed van bitsige kritiek daar rondom vra nugterheid. Laat ons onbevooroordeeld na die saak kyk.
Meeste gelowiges glo dat God gebede verhoor – maar op een van drie maniere: a) “Ja”, b) “nee”, of c) “wag, nie nou nie”. As daar ‘n plekkie vir opsie a en c is, word gebede dus “soms” verhoor.
So waarvoor bid gelowiges? Behalwe vir danksegging en prysing bid gelowiges vir gunstige uitkomstes. Voorbeelde daarvan is bede vir gesondheid, genesing, verligting, beterskap, wysheid, vrede, “behoed en bewaar”, voorsiening, ingryping, selfs ingryping in weerstelsels, ensovoorts.
As God (soms) hierdie versoeke verhoor moet dié mense en gemeenskappe wat bid of voor gebid word, immers gesonder wees, langer leef, veiliger wees, gelukkiger wees, meer voorspoed en wysheid ervaar, beter oeste kry, meer eksamens slaag, minder ongelukke ervaar, ens. In kort, meer “geseënd wees”.
Na die beste van my wete, is dit nie so nie. Glad nie so nie. As dit so was, was oorwegend nie-gelowige gemeenskappe (soos Skandinawiërs) slegter af as oorwegend gelowige gemeenskappe.
Daar is ook baie navorsing gedoen oor die krag van gebed.
Tussen 2002 en 2005 het die Bush-administrasie meer as $2.3 miljoen spandeer aan “prayer research”. Diè sistematiese studies (dubbel-blinde kliniese studies) se bevindinge is in vooraanstaande joernale gepubliseer (Archives of Internal Medicine, Lancet, American Heart Journal, Mayo Clinic Proceedings, ens.) Die krag van gebed kon geensins waargeneem word nie. In elke geval het die etlike honderde koronêre pasiente waarvoor gebid was, GEEN beter oorlewing of genesing ervaar het as die kontrolegroep nie. *
In elk geval, genesende krag van gebed blyk slegs te “werk” in gevalle waar die siekte die potensiaal het om vanself of natuurlik te genees (soos kanker of griep of depressie). Geen “amputee” se gebed is al verhoor nie. Ook geen persoon met ‘n genetiese defek of ‘n morsaf rugmurg nie. (Ek moet egter erken dat Shabir Shaik se wonderbaarlike genesing van ‘n terminale siekte my argument dalk uit die water blaas…)
Dit is die koue feite. Jammer as dit nie by u a-priori standpunt inpas nie. En Ds Cruywagen, ek hoop nie jy gaan jou werk as gevolg van fundamentaliese aktiviste veloor nie.
• Bron: “God and his Demons” (M Parenti). 2010, Promethius Books, (P.69)