Share

Dominee op stresverlof na herrie oor duiwels

Die duiwel is los in Krugersdorp.

Die bevrydingsbediening van ds. Pieter Fourie, een van die predikante van die NG gemeente Rant en Dal, het tot soveel ongemak in die gemeente gelei dat Fourie nou openlik daaroor praat om die NG Kerk te verlaat.

Fourie is die laaste weke in die nuus nadat ’n mediaherrie ontstaan het oor dié bediening waardeur hy duiwels en demone uit mense dryf.

Hy het in ’n stadium op Facebook sy bereidwilligheid verklaar om “spoke” en duiwels uit mense se lewe te verjaag.

Nou blyk dit daar is reeds sedert verlede jaar ongemak in sekere kringe in die gemeente oor dié bediening van Fourie. Sy duiweluitdrywing is toe al deur die gemeenteraad bespreek.

Volgens Fourie het sy medeleraar, ds. Jannie Pelser, hom ná een van sy preke (waarin hy glo vertel het hoe ’n groep kinders van demoniese belasting bevry is) selfs ’n dokument laat onderteken waarin hy onderneem het om nie weer oor duiweluitdrywery te preek nie.

Pelser het buite die gemeente ’n hoë profiel as sanger, radio-omroeper, TV-aanbieder en leier van die Nuwe Hart-stigting.

Sedert die storm om Fourie se kop losgebars het, is hy op siekteverlof. “Dis eintlik stresverlof,” sê hy.

“Daar is só baie mense wat positief is oor my bediening,” sê hy. “Dit is net die leiers van Rant en Dal en die NG Kerk wat negatief is.”

Fourie is ook kwaad dat hy deur die gemeente aangesê is om nie met die media onderhoude te doen nie, terwyl sy kollega in die jongste uitgawe van Kerkbode oor die spanning in hul gemeente praat.

“Hulle trek my uitmekaar. En dit terwyl ek getuienis op getuienis het van mense wat ek gehelp het. As hulle dit nie aanvaar nie, is my tyd binne die NG Kerk dalk verby.”

Pelser sê die versoek dat Fourie nie meer oor bevryding preek nie, was bloot ’n tydelike ordereëling en dat hulle reeds die saak met hom verder sou bespreek het, as dit nie was vir die feit dat hy intussen op siekteverlof gegaan het nie.

“Ons vertrou dat ds. Pieter gou sal herstel sodat ons rondom hierdie saak kan vorder.”

Selfs al is hy op verlof, sê Fourie hy kry daagliks nog sowat 30 versoeke om hulp van oor die land heen. “Een skryf daar is ’n spook op sy plaas, ’n ander vertel haar kind raak soggens drie uur wakker nadat hy iets gesien het. Saterdagoggend het ’n oom en tannie hier opgedaag, die heelpad van Germiston af, om te vertel hulle het ’n sangoma gaan sien en sedertdien gaan dinge mal.”

Fourie se bediening, wat insluit dat hy talle jong kinders van demone en bindings bevry en dat hy mense waarsku teen wierook, Boeddha-beelde en Afrika-maskers, lei intussen tot ’n al hoe wyer gesprek in die NG Kerk.
Kerkbode, lyfblad van dié kerkverband, het selfs twee volbladsye afgestaan aan ’n debat van verskillende teologiese sienings oor die kwessie.

Fourie is ook ongelukkig dat baie van die kritiek teen hom uit snedige aanmerkings oor sy voorkoms bestaan. Mense kom gereeld op sy Facebook-blad en beskuldig hom van vraat- en vetsugtigheid.

Hy was tot onlangs erg oorgewig, maar het sedertdien glo al omtrent 20 kg afgeskud.
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think Minister Blade Nzimande made the right call to dissolve the NSFAS board?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
Yes, NSFAS mismanagement is costing students
34% - 468 votes
No, it's suspicious given that he's implicated
66% - 893 votes
Vote
Rand - Dollar
19.04
-0.3%
Rand - Pound
23.66
-0.2%
Rand - Euro
20.21
-0.3%
Rand - Aus dollar
12.19
+0.3%
Rand - Yen
0.12
-0.0%
Platinum
970.80
-0.5%
Palladium
1,021.50
-0.2%
Gold
2,385.62
+0.1%
Silver
28.16
-2.5%
Brent-ruolie
90.10
-0.4%
Top 40
66,902
-2.2%
All Share
73,000
-2.1%
Resource 10
61,638
-3.6%
Industrial 25
98,321
-1.9%
Financial 15
15,650
-1.1%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE