News24

Godsaak oneindig groot skade aangedoen

2011-05-27 23:01 Noudat hierdie onverkwiklike spektakel oor die wegraping verby is, sou mens wou hoop dat dit vir goed is.

Maar helaas verneem ons dat hierdie bende pionne so werklik weer op pad terug na die Bybel is vir ’n vars aanloop van somme!

Met verdriet word die werklike les agtergelaat, naamlik dat mense so besig kan raak met die Woord van God dat hulle die God van die Woord nog nooit begryp het nie.

Oor RSG het Johannes Coetzee hom binne minute weerspreek, maar so aangestoom dat selfs die gedugte Ian Wessels tevergeefs probeer het om sy eie program op rigting te hou. Dit het my onwillekeurig laat dink aan ’n menslike CD-speler waarvan die

pause-knop nou en dan vir asem gedruk is, net om ’n oomblik later weer ongesteurd voort te dreun.

Dat die volgelinge van ’n eiewyse ou fossiel oorkant die water hulle met goed en bloed vasgeloop het en nou in hul selfgemaakte ellende verkeer, roer my min. Maar die pynlike skade wat aan die siele van vertrouende medegelowige mense aangerig is, pla my wel!

En waar dit tydelik was, is die oneindig groter skade aan die saak van God weens die skep van twyfel by gelowiges onverskoonbaar.