Share

Hanlie gesels met Sonja Herholdt

Daar’s weer kuiltjies in Sonja Herholdt se wange.

Liggies in haar oë. ’n Lied op haar lippe.

“Ek verlang nie meer nie, hierdie hart is heel…” sing sy op haar nuwe CD met daardie Sonja-stem wat so deel van ons is soos sakkie-sakkie op karavaanvakansies in Hartenbos.

Jare lank het Sonja gesing van waterblommetjies, van Jantjie, van Hanoverstraat, maar soos die harlekyn was dit met ’n hart vol pyn.

Toe bring die nuwe millennium vir haar die man na wie sy verlang het.

Die misterieuse Michael.

Lank, donker en… 19 jaar jonger as sy.

“Ek vra gereeld vir hom: Jis, waar wás jy allietyd in my lewe? Dan antwoord hy: Ek was nog te klein!”

Vir die eerste keer, sê Sonja, is sy nou rêrig gelukkig. “Ek kan nie vir jou sê wat dit beteken as jy weet daar’s iemand wat lief is vir jou, wat jou drá nie.”

Sy fluister die woorde, hier in haar Randburgse sitkamer, asof sy dit nie hardop wil sê nie, asof geluk breekbaar is. Dis die eerste keer dat Sonja haar hart oopmaak oor Michael.

Op die bank, voete onder haar ingevou, in so ’n vrolike pienk truitjie, lyk sy nie náby 58 nie.

Haar “hunk met die mooiste donkerbruin oë” doen vir haar meer as Botox.

Michael het destyds vir haar eks-man, FC Hamman, klankwerk gedoen. Sedert Sonja se egskeiding is hy deel van háár span, deel van haar lewe. Hy is reeds 13 jaar voltyds aan haar sy en verkies om op die agtergrond te bly. Hy’s haar tegniese en administratiewe bestuurder, maar ook “my rots, hy laat my blom”.

Vyf-en-dertig jaar gelede het ’n blonde onderwyseressie van Nigel die volk kom bekoor met Ek verlang na jou, met daai Tinkerbell-stemmetjie wat so hoog sweef as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan.

Nou’t 2010 weer vir Sonja Herholdt ’n goue jaar geword.

Rapport Vonk én Huisgenoot het haar pas bekroon vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Haar CD Pêrels is ná ’n dekade lange stilte uitgereik en sy’s eersdaags in die musiekbly-spel-fliek Liefling.

Haar nuwe liedjieskrywer, Rudi Claase, maak haar so opgewonde soos Anton Goosen in 1975 met Jantjie. “Rudi het hier aangekom met ’n pet en oorbelletjie. Ek sê toe vir hom: Ek’s nie meer young & funky nie, ek doen nie doef-doef nie, maar ek het nog iets om te sê…”

Dis voor Rudi self ’n Liefling geword het, met eie supersterstatus, én voordat hy laasmaand byna ineengestort het toe dit op die lappe kom hy’s nie sy sangmaat Corlea se Liefling nie, maar Stephen Stewart se huweliksmaat.

Sonja het hom in dié donker ure bygestaan.

“My raad was: Die waarheid haal jou in, maar dit maak jou ook vry. Ek wéét. Moenie toesmeer of weghardloop nie. Mense sal jou aanvaar, al kan jy nooit almal tevrede stel nie.

“Rudi is ongelooflik kunstig. Sulke mense, soos Anton Goosen ook, is geneig tot depressie. Ná sy skielike roem het Rudi die front probeer voorhou van ’n romantiese Lieflinge-prentjie, al het hy nooit gesê hy en Corlea is ’n paartjie nie. Toe’s hy bang dit gaan hul loopbaan verwoes, en dinge raak vir hom te veel.”

Sonja, egter, is ’n kurkproppie. Níks kry haar onder nie.

Nie ’n reeks-rondloper van ’n man, vier kinders waarvan een doof geword het, en ’n motorongeluk waarin sy ernstig beseer en haar loopbaan tot stilstand geruk is nie.

Terwyl sy haar joga-klere aantrek vir die foto’s vertel Michael dat mense haar soms ’n sad lady noem omdat sy ’n swaar lewe gehad het. “Maar Sonja het ’n pret-persoonlikheid, sy’s altyd reg vir sports. Ek’s eerder die een wat moeg raak!”

Jy hoor die omgee in sy stem.

Hy vertel hoe teleurgesteld Sonja is as die verhoog ver is van haar gehoor, want sy wil by die ménse uitkom. “By verkeersligte raas ek gedurig met haar, want sy smaail vir die straatsmouse, en dis deesdae te gevaarlik.”

Een ou, egter, wat nié maklik weer ’n sonskynsmaail van Sonja gaan kry nie is onse Joerels.

Jurie Els het haar vroeër vanjaar vir laster gedagvaar nadat sy kwansuis in Sondag hom “Die vark! Die vark! Die vark!” genoem het.

“Ek het dit nóóit gesê nie! Yolanda Barnard het dit opgemaak. Ek het dadelik Jurie se woordvoerder gebel en gesê my simpatie is vir seker by Robbie (Klay), maar ek’t hom beslis nié ’n vark genoem nie.

“Jurie irriteer my. Hy moet eintlik dankbaar wees hy sit nou in Nieu-Seeland en nie in die tronk nie. Los nou jou bakleiery, Jurie!”

Mense wonder hoekom Sonja nooit teen Jurie in Robbie se hofsaak gaan getuig het nie. Jurie het immers vir haar en Patricia Lewis reguit uitgedaag om dit te doen.

“In ’n hofsaak moet jy konkrete bewyse hê. Ek het net my eie waarnemings, soos Patricia en FC ook. Dit was onnatuurlik hoe Jurie so absoluut ingezoem het op Simeon (Sonja se seun) en ander jong kinders. Dit het veral vir FC bekommer en ons het gesorg dat Simeon nooit alleen saam met Jurie was nie.

“Jurie het nou per e-pos uit Nieu-Seeland gedreig hy gaan ’n saak teen my maak as ek nie in die media amptelik verskoning vra nie. Hy raai my ook aan om sy boek te lees. Dan sluit hy af deur te sê hy wil vrede maak. Kan jy glo! Dis diep ironies, nes sy boektitel: Ver van vrede.”

Joerels vertel in sy boek van Sonja se “donker geheime” wat sy nie met die publiek deel nie, maar wat hy in sy hart bêre…

“Ag, tsk! Dis histeries. Die geheime is so donker ek weet nie eens van hulle nie.”

Jurie se venyn, dink sy, is oor sy in háár boek geskryf het sy wou nie meer saam met hom optree nie, want hy spog heeltyd hoe goed en gewild hy is.

“En toe beaam die regter dit sowaar in die hof – dat Jurie sy eie beuel blaas.”

In ’n vermaaklikheidsbedryf waar almal tog so graag ’n ikoon wil wees, kom Sonja nog uit ’n era van wáre Afrikaanse ikone: Mynie, Carike, Rina. En Sonja. Hulle was ons ’70’s en ’80’s. En steeds daar. Ikone.

Mense kry dikwels trane in hul oë as hulle haar ontmoet, vertel Sonja. “Seker oor ek deel is van hul kleintyd-memories, ’n tyd toe Afrikaners nog veilig gevoel het, van grootword, van Pa en Ma en boetie-op-die-grens.”

Onlangs vertel Deon Opperman haar van die keer op die grens toe hulle in doodsgevaar in die bosse gelê het. Toe begin een ou met Ek verlang na jou, en naderhand sing almal saam. Dit was ’n besonderse, onvergeetlike oomblik.

“En terwyl Deon dit vir my vertel, loop die trane oor sy wange.”

As mense vir haar kom sê, wow, ek was jou fên toe ek klein was, frustreer dit haar. “Almal wás ’n groot fên. En nou?”

Een ding maak Sonja bang: Om ’n has been te wees.

“Nee, kyk, ek wil groei en bybly soos ek glo my paadjie vir my uitgelê is.”

In haar boek skryf sy van twee tienermeisies wat haar by ’n konsertplakkaat staan en beskinder. Sing sy dan nog? wonder hulle, is sy nog nie dood nie? Die foto is seker ge-photoshop, sy’s darem ’n te ou vrou vir die stud in haar neus…

Maar Sonja is nooit té oud nie. Vra maar vir Michael. Hy antwoord sonder woorde terwyl hy daai lyfie agternakyk wat in gitswart gim-klere tuin toe trippel.

Sy wys na sy tuinwoonstel naby die swembad. Ja, knik sy en glimlag, hulle’t hul eie ruimtes.

“Ons is so heeltyd bymekaar, partykeer kry mens cabin fever.”

Is hy vir altyd? vra ek terwyl sy soepel in die standing bow-joga-posisie inbuig. Sy huiwer ’n oomblik. “Ek dink so.”

Dan knipmes sy haar lyf, druk haar neusie teen die gras…

Die vragie voel só onnodig: Bekommer die groot ouderdomsgaping haar?

“Nee en ja. Nee, omdat ek vertrou in die Here. Ek weet wat met my sal gebeur, sal die beste wees. En ja, die vrae en vrese is dáár – wat van later, as ek nie meer aanvaarbaar is nie…”

Sy sê altyd vir hom: Kom ons waardeer die oomblik, want ons weet nie wat lê in die toekoms nie.

“M. Scott Peck se Road Less Travelled het my geleer om die waarheid te konfronteer. Om in die paradoks te lewe van jy het iets, maar ook nié.”

Hy bederf haar met klein dingetjies, vertel sy. “Vanoggend, voor julle gekom het, het hy gou die sitkamer gestofsuig, skottelgoed gewas.”

Hy klink soos iets uit die hemel?

“Ek weet dit klink nou baie gospelrig…” dwaal sy af, “en dis nie meer wat ek is nie. Ek het ’n diep verhouding met die Here, maar ek’s nie meer godsdienstig nie?… Maar dit voel vir my of die Here sy liefde deur Mike vir my bewys.”

Hulle groet my by die kar. Met die wegry sien ek hoe hulle vrolik waai, by mekaar inhaak, omdraai en huis toe stap.

Sonja is gelukkig.

Dis of Bob Dylan vir háár sing:

And may your song always be sung

May you stay forever young… 

- Oorspronklik verskyn in Rapport

Stuur jou kommentaar aan Hanlie

Neem kennis: Nuus24 is ten gunste van vryheid van spraak en 'n diversiteit van sienings. Die opinies van rubriekskrywers wat op Nuus24 gepubliseer word is hul eie, en verteenwoordig nie noodwendig die sienings van Nuus24 nie.


 
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Voting Booth
Do you think corruption-accused National Assembly Speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula will survive a motion of no confidence against her?
Please select an option Oops! Something went wrong, please try again later.
Results
No, her days are numbered
42% - 517 votes
Yes, the ANC caucus will protect her
58% - 727 votes
Vote
Rand - Dollar
18.89
+0.2%
Rand - Pound
23.84
+0.3%
Rand - Euro
20.36
+0.4%
Rand - Aus dollar
12.30
+0.3%
Rand - Yen
0.12
+0.2%
Platinum
908.05
0.0%
Palladium
1,014.94
0.0%
Gold
2,232.75
-0.0%
Silver
24.95
-0.1%
Brent Crude
87.00
+1.8%
Top 40
68,346
0.0%
All Share
74,536
0.0%
Resource 10
57,251
0.0%
Industrial 25
103,936
0.0%
Financial 15
16,502
0.0%
All JSE data delayed by at least 15 minutes Iress logo
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE