News24

Studie: Energiedrankies gevaarlik vir kinders

2011-02-14 09:16 Chicago - Kinders moet glad nie energiedrankies gebruik nie, meen ‘n groep Amerikaanse dokters.

Nie net moet daar nog vele studies rondom dié produk gedoen word nie, maar dit kan baie gevaarlik vir tieners en kinders wees, meen hul studie.

Van die potensiële gevare wat deur te veel kafeïen en soortgelyke bestanddele veroorsaak kan word, is hartkloppings, beroertes en die dood, volgens die groep se studie, wat in die mediese joernaal Pediatrics gepubliseer is.

Die joernaal het inligting verskaf deur die Amerikaanse regering en belangegroepe, wetenskaplike literatuur, gevallestudies en artikels in die media bestudeer om tot dié gevolgtrekking te kom.

Volgens die verslag het sekere energiedrankies vier tot vyf keer meer kafeïen as gewone koeldrank soos Coke en moet jongmense ontmoedig word om dit te gebruik.