News24

116 jaar van Afrikaanse flieks

2011-07-02 07:45 Die rolprentskrywer Leon van Nierop het 3 600 km afgelê en sowat 200 Afrikaanse prente opnuut onder oë gehad vir ’n omvattende televisiereeks oor die Afrikaanse rolprent. Laetitia Pople het hom uitgevra.

Waar begin ’n mens as jy ’n reeks oor die Afrikaanse fliek aanpak?

By die heel eerste beelde wat ooit op film in Suid-Afrika vasgelê is, dus van pres. Paul Kruger wat in 1895 in sy koets voor sy huis in Pretoria op pad Raadsaal toe is.

Daarna het ek navorsing gedoen oor die nuusprente gedurende die Anglo-Boereoorlog. Die Britte het hier kom nuusrolprente skiet sodat die families van Britse soldate kon sien wat hier aan die front gebeur. Só het Suid-Afrika die eerste land met ’n oorlog geword wat in ander wêrelddele gewys is en waar oorlog “vermaaklikheidswaarde” gekry het.

Maar die oorlog is aanvanklik uit die oogpunt van die Britte gewys, met Afrikaners wat as agterlik uitgebeeld is. Dit het die Afrikaners in die land natuurlik ­ontstel, en hulle het gevoel dat hul volksverlede na behore gewys moes word, daarom is De

Voortrekkers in 1916 gemaak. Ons wys baie skaars grepe uit die oorlog, toe kameras op ossewaens van slagveld na slagveld getrek is.

Aangesien ons op Afrikaanse rolprente fokus, is

De Voortrekkers van 1916 as die eerste “Afrikaanse rolprent” gesien omdat die flitskaarte in Afrikaans of Nederlands was. Dít is die eerste prent wat erkenning as vollengte- “Afrikaanse” rolprent kry.

Die eerste prente met klank in Afrikaans was ­Joseph Albrecht se

Moedertjie, asook Sarie Marais, hoewel laasgenoemde net musiek is waarin daar in Afrikaans gesing word. Moedertjie is die eerste vollengte-rolprent met ­Afri­kaanse dialoog.

’n Oorsig van spesifiek die Afrikaanse rolprentbedryf is lank uitstaande.

Katinka Heyns het destyds met

Silwerdoekstories só ’n inisiatief ­begin, maar hierdie een is 26 episodes lank. Ek dink nie iemand het intussen die moed of vermetelheid gehad om dit te doen nie.

Die teater het al ’n beurt gekry (

Impresario), maar nie die ­Afrikaanse rolprent nie en ek is self bewus van ’n legio staaltjies waarvan niemand weet nie en wat in die vergetelheid sou versink het. Toe ek die opdrag van ­kyk­NET kry, het ek egter nie besef hoe ’n gewel­dige werk dit sou wees nie.

Maar elk van die sowat 70 onderhoude wat ons oor ’n afstand van 3 600 km deur die land verfilm het, is met absolute ­respek, deernis en liefde gedoen.

Wat dink jy is werklik spesiaal en ­uitsonderlik aan die Afrikaanse prent? Wat kan dit bied wat die plaaslike prente in Engels nie bied nie?

Afrikaanse rolprente beeld die (Suid-)Afrikaanse kultuur uit soos min Engelse prente dit kon regkry.

Maar dit wys ook vir ons waar ons in elke tydvak was – emosioneel, politiek en sosiaal. Byvoorbeeld: Hoe slegter dit met die politiek gegaan het, hoe meer het die Afrikaanse rolprent verstrooiingsvermaak gebied om mense te troos en voor te gee dat alles eintlik orraait is.

Tot Jans Rautenbach gekom en ’n opehart-operasie op die Afrikaner gedoen het, wat ander regisseurs wakker geskud en geïnspireer het en gewys het wat moontlik is.

Afrikaners het ook ’n manier om reguit en op die man af na mekaar te kyk en mekaar op ’n manier uit te beeld wat die Engelse rolprent nie altyd regkry nie, veral ’n fliek soos

Roepman. Geen Engelse?regisseur?sou werklik reg daaraan kon laat geskied nie.

Wat staan vir jou uit in die maak van die reeks?

Die ongelooflike passie waarmee Diaz-Films uit hul pad gegaan het om die hele land vol te ry en elke liewe denkbare persoon wat iets met die rolprentbedryf te doen gehad het, vir onderhoude op te spoor en ook vir die verkryging van die seldsame uittreksels uit die argiewe.

Maar wat my die meeste getref het, is die wyse ­waarop mense in die bedryf hul harte vir my oop­gemaak het en onomwonde en hartlik met my gesels het oor wat hul rol in die bedryf was en waar hulle vandaan kom en ingepas het.

Hulle het ook hul staaltjies en stories agter die skerms onselfsugtig met my gedeel.

Jy was die laaste joernalis wat ’n onderhoud met Elmo de Witt gevoer het. Wat is jou indrukke?

Elmo het dit reggekry om die volk in massas in die bioskoop te kry met verstrooiingsvermaak. Ek dink nie noodwendig hy was ’n goeie regisseur nie, maar hy het Afrikaanse rolprente gemaak en mense teruggelok ­teaters toe.

Toe ek Elmo die laaste keer gesien het, het hy glimlaggend gesê: “Hemel, jy het oud en grys geword!”

Dus was sy humorsin nog soos ek hom geken het. Sy geheue was ook nog goed, en hy kon gesels oor sy eerste rolprent en dat hy verantwoordelik was vir

Satans­koraal en Suid-Afrika (Afrikaans!) se eerste onderwater-

tonele.

Wat was vir jou ’n ware ontdekking, aangesien jou kennis van die bedryf ­omvangryk is?

Ek besef nou eers watter ongeloof­like bydrae Frederik Burgers en Al ­Debbo gemaak het. My ouers wou nooit na hul prente gaan kyk nie omdat dit, volgens my pa, “te verspot” was, en daarom het ek ’n vooroordeel teen hulle gehad.

Maar nou, ná 35 jaar as resensent, kon ek onbevange na ­hul bydrae kyk; dit is verstommend dat hulle dolle klug tot ’n kuns ver­volmaak het en dat hul humor lekker aards en boers was, en hul aanslag vol onblusbare energie en entoesiasme, maar veral menslikheid. Anders as sommige van vandag se komedies is daar geen venyn of ­vulgariteit nie, maar ’n naïwiteit en onskuld wat my soms bewoë maak.

Die wyse waarop hulle komedie ontgin het en ook indirek kommentaar op die Afrikaner gelewer het, was vir my inspirerend.

En dan was die staaltjies agter die skerms van Jamie Uys se rolprente vir my kosbaar. En ek het met groot eerbied in Mimosa se kantore in Bloemfontein gestaan en gekyk na die memorabilia uit Jamie se flieks, byvoorbeeld

The Gods Must be Crazy se Coke-bottel.

Dan het ek respek vir Regardt van den Bergh wat die Afrikaanse prent koel gemaak het met die Boetie-rolprente, en hoe Katinka Heyns kuns toeganklik gemaak het.

Kan die Afrikaanse prent die toets van die tyd deurstaan? Watter prente sal jy ­uitsonder?

Ek dink beslis so.

Roepman vaar ­uitstekend, en ek is bly oor die sukses van Liefling, wat wys ons kan ’n ­musiekprent maak.

En dan

Skoonheid, wat dit waag om ’n onderwerp aan te raak waaroor ons tien jaar gelede nie eens gedroom het nie.

Ek dink die Afrikaanse bedryf staan sterk en het veral vanjaar grootgeword.

- Daar doer in die fliek begin op 7 Julie om 20:30 op kykNET.

Die vervaardiger is Christa Lategan en die ­regisseur is Johan Lategan.

Leon van Nierop is die aanbieder, teksskrywer en navorser.

’n Afrikaanse rolprentfees word van 12 tot 18 Augustus in teaters landwyd beplan.

Die tydgees in die Afrikaanse rolprent

1930’s: Die Depressiejare en swaarkry.

1940’s: Die koms van nasionalisme en ­nasietrots.

1950’s: Die Afrikaner leer vir homself lag en Pierre de Wet maak (van 1948) die eerste keer werklike vermaakprente (konsertprente, as jy wil.)

1960’s: Verstrooiingsvermaak en die koms van Jans Rautenbach, wat die Afrikaner uit sy sluimerslaap ruk.

1970’s: Die histerie toe TV begin. Rolprente ontgin nou elke denkbare genre.

1980’s: Afrikaans word verfilmde radio en TV.

1990’s: Die Afrikaanse prent verdwyn feitlik, met die uitsondering van Katinka Heyns.

2000+: Die Afrikaanse prent vind weer sy voete. Ons is nou waar ons in die middel van die jare 60 was – ons skep orde uit ’n chaos.

Leon van Nierop

Grotes in die bedryf

Leon van Nierop sonder die grotes in die Afrikaanse rolprent uit: Marie du Toit, Jana Cilliers, Cobus Rossouw, Marius Weyers, Katinka Heyns, Regardt van den Bergh en vandag Deon Lotz. Sandra ­Kotze is ons mees onderskatte aktrise. En Pierre de Wet is die vader van die Afrikaanse rolprent (as vervaardiger en regisseur).

Al Debbo vermaak met dolle, klugtige kaskenades wat mense laat skater.

Jans Rautenbach op die stel van Katrina. Hy sorg vir ’n omkeer in die rolprentkuns.

Jannie Totsiens, een van Rautenbach se gevierde prente, met Cobus Rossouw.

Eric Nobbs en Arnold Vosloo in Regardt van den Bergh se Boetie gaan border toe.

Jamie Uys se rolprente word gou “volksbesit” en spreek steeds tot gehore.

Ellis Pearson (links) in Katinka Heyns se magiese Paljas wat in die Karoo afspeel.

– Volg Nuus24 op

Twitter