News24

Kop & Hart: Die taal van my hart

2014-04-18 11:38 “Abel, hoekom skryf jy nie in Engels nie? ...jy weet seker dat jou idees nie soveel weerstand in Engels sal vind nie. En daarby sal jy ‘n groter leserstal hê...” so sê-vra ‘n filosofie student vir my, na ‘n praatjie van my aan ‘n klompie studente (in Afrikaans!)
 
Glad nie ‘n dom vraag nie. Daardie aand lê ek lank wakker en wonder of ek nie maar moet ophou sukkel om met Afrikaanssprekendes in dialoog te probeer tree nie.
 
Want kom ons wees nou eerlik met mekaar, die grootste gedeelte van Afrikaanssprekendes is nog erg konserwatief in hulle denke, veral as dit kom by godsdiens. Miskien mors ek my tyd en energie om ‘n eietydse spiritualiteit en vrydenkende gesprek onder Afrikaanssprekendes aan die gang te kry.
 
Die volgende oggend staan ek op en terwyl ek drink aan my eerste koppie koffie, blaai ek bolangs deur die nuwe boek wat ek gekoop het. Dan val my oog op die volgende storie.
 
Dis ‘n storie wat vertel van ’n Europese koning wat wou vasstel wat die mens se natuurlike taal is. “Kan jy nou meer,” dink ek hardop, “nou dat ek juis wonder oor my eie taal...”
 
In elk geval, die storie gaan soos volg: Die koning het ’n aantal babas gekies en hulle toe doelbewus laat grootword sonder enige blootstelling aan taal of kommunikasie. Die wat hulle moes versorg, is beveel om nooit met hulle te praat nie.
 
Ná ’n klompie jare, so lui die storie, het die onvermydelike gebeur. Nie een van die kinders kon praat nie. Die koning was baie teleurgesteld. Hy’t gehoop dat sy eie moedertaal die oorspronklike Godstaal sou wees, dat taal van God af kom en vóór geboorte reeds binne-in elke mens vasgelê is. En indien geen taal aangeleer sou word nie, die mens dan van nature die oorspronklike Godstaal sou praat.
 
Soos dit nou maar met sulke stories gaan, is bogenoemde eksperiment hoogs onmoontlik en onwaarskynlik. Maar ek kon nie help om die boodskap daaragter raak te sien nie.
 
Dis tog voor die hand liggend dat daar nie so iets soos ‘n spesifieke taal is wat deur God in almal se harte of koppe vasgelê word nie.
 
Ons weet dat taal aangeleer word en dat tale verskil soos kulture en opvoeding verskil.
 
Ja, ons leer taal van mekaar aan. Maar meer as dit, taal is baie dieper in ons wese en identiteit ingeweef as wat meeste van ons besef.
 
Ons leer nie net taal van mekaar nie, ons leer ook sekere denkpatrone daarmee saam. Ons kry met ons moedertaal ook ‘n spesifieke uitkyk, wêreldbeeld, simbole-wêreld en verstaan van die werklikheid in.
 
Met ander woorde: Mense wat verskillende tale praat, sien en ervaar die wêreld effens verskillend van mekaar.
 
Ons taal wat ons praat is dus veel meer as net ’n instrument van klank en kommunikasie. Ons taal is deel van hoe ons onsself beleef en sien, en hoe ons onsself uitdruk en verstaan in die wêreld.
 
Prof. Lera Boroditsky van Stanford-universiteit in die VSA, departement neurowetenskap, skryf in haar artikel “How does our language shape the way we think?” dat dít beteken as ’n mens ’n nuwe taal aanleer, leer ‘n mens nie net ’n nuwe manier van praat aan nie, maar ook ’n nuwe manier van dink.
 
Die taal wat ons praat, lê dus veel dieper in ons identiteit, en dit volg dan logies dat as ek nie meer in Afrikaans skryf nie ek inderwaarheid ’n belangrike deel van myself gaan prysgee.
 
Want net soos Afrika in my bloed is, net so is Afrikaans. Dit is deel van my en ek is deel daarvan. Dis my taal en my mense. En alhoewel ek baie keer voel soos ‘n buitestaander, is ek nie!
 
Ek stem ook saam met wat wyle Nelson Mandela oor Afrikaans gesê het: “Afrikaans is ‘n taal wat uit die bodem van Suid-Afrika gegroei en ontwikkel het, gevoed deur die verskeidenheid van tale en kulture in ons land, gewortel in die soeke na eie identiteit en vryheid.”
 
En juis daarom wil ek in Afrikaans dink, herdink, nuut dink en wonder. Ek wil stry, baklei, saamstem, saamgesels en droom in Afrikaans.
Want Afrikaans is die taal van my hart ... en my kop.
 
Hiermee bedoel ek nie dat ek nie wel ook in Engels myself gemaklik kan uitdruk nie. Ek kan. Maar die taal waarin ek dink, twyfel, soek, beleef, huil en bly is, is Afrikaans.
 
En daarom as ek nie sinvol ‘n vrydenkende gesprek kan voer in Afrikaans, met Afrikaanssprekende mense nie, beteken dit mos ek hardloop weg van my asem.
 
Dit mag dalk so wees dat meeste van “my mense” nie met my wil praat nie, maar as ek nie hier kan praat nie wat sê dit van my "praat"?
 
En net soos ek Afrikaans nodig het, het Afrikaans my en mense soos ek nodig. Vrydenkers met hulle eerlike twyfel vrae en soeke is suurstof vir die taal.
 
Dit hou die taal lewendig en relevant. Daarom is dit so belangrik dat ons met ons taal binne nuwe velde van denke, metafore en simbole moet inbeweeg.
 
Dink maar net aan die verstaan van ‘n bewustelike lewe (mindfulness). Om in Afrikaans oor die ewige Nou te praat, en Afrikaanse woorde te vind vir "enlightenment", "still mind" en "compassion" – is om hierdie begrippe binne die bewussyn van die Afrikaner in te dra.
 
Net soos die Afrika begrip ubuntu weer verruiming in ander tale en dié se meegaande denke bring.
 
Om in Afrikaans nuwe vrae te vra (veral rondom ons geskepte prentjies van God en ons belewenisse van spiritualiteit) is om ook nuwe alternatiewe te skep. Om nuwe potensiële weë te baan.
 
Natuurlik beteken hierdie nuwe dink en praat nie noodwendig dat alles in ons opvoeding, kultuur en taal ongeldig en as outyds afgemaak moet word nie.
 
Wanneer ons eerlik, krities en met respek omgaan met ons taal en opvoeding, word ons baie keer juis bewus van al die wonderlike skatte wat daarbinne versteek is. Daar is vele rigtingwysers wat ons as vrydenkers kan begelei.
 
Dus moet ons na mekaar kyk met begrip en respek, sonder om enige idee, konsep of taal te verabsoluteer of enige idee, persoon of kultuur te demoniseer.
 
Ons moet eerder respekvol-krities na mekaar luister, en soek vir ‘n groter oop ruimte waarin ‘n konteks gevind kan word waarin nuut gedroom en gepraat kan word.
 
En ek wil graag dit alles ook kan doen in Afrikaans. Veral in Afrikaans ... die taal van my hart.
 
Ek wil afsluit met lirieke uit Stef Bos se lied, Die taal van my hart:

“Jy kan my vat net soos ek is
Jy mag van my hou
Jy mag my ook haat
Ek is wie ek is
Dit is my wêreld
En dit is my stem
Hoor die taal van my hart”