Ramsgate
Agt-en-dertig jaar nadat Maria (Ria) Roux, beter bekend as die spookmeisie van Uniondale, in 'n motorongeluk by dié klein Oos-Kaapse dorpie dood is, vra haar familie nou dat die spookstories oor haar tot 'n einde kom.
"Ons is meer as moeg daarvoor. Dis 'n klomp bog, maar dit kry net nie end nie."
Die organiseerders van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees gebruik dit selfs as advertensie vir hul fees. Anton Goosen sing daaroor. En dan is daar die mense wat jaar ná jaar in die Paasnaweek by die ongelukstoneel gaan kampeer in die hoop om nugter weet wat te sien. Selfs Uniondale slaan met toerisme munt daaruit, sê die familie.
"Ons wil vir die mense sê: los Ria uit. Daar is nie 'n 'spook' van haar nie en daar was nog nooit een nie," sê mnr. Frans Roux (66) van Ramsgate in KwaZulu-Natal, ouer broer van die meisie wat in September 1946 as Maria Charlotte Roux in Krugersdorp gebore is.
Ria was die tweede jongste van vier kinders. Haar ma, Malie, was 'n huisvrou, terwyl haar pa, ook Pieter, jare lank skoolhoof in eers Jacobsdal en later in Riversdal was.
Ná matriek het Ria by 'n bank in Robertson gewerk en daarna 'n administratiewe klerk in Pretoria geword.
Daar het sy aan Giel Oberholzer, 'n weermaglid, verloof geraak.
"Kort ná die verlowing en net voor die Paasnaweek het sy en Giel met hul Volkswagen-Kewertjie uit Pretoria vertrek om haar ring vir my ouers in Riversdal te gaan wys.
"Op 12 April 1968, omstreeks agtuur die aand, digby die Barandas-afdraai net buite Uniondale, het 'n rukwind hul motor van die pad geruk," vertel Roux.
"Giel het beheer verloor en die motor het omgeslaan. Ria het by die deur uitgeval en in 'n sloot langs die pad beland. Sy is op slag dood.
"Giel was ernstig beseer. Hy was baie deurmekaar en kon haar nie in die donker opspoor nie. 'n Verbygaande motoris het hom opgelaai en hospitaal toe geneem." 'n Ander motoris het Ria se lyk later by die omgeslane Kewer gekry. Sy was 22 jaar oud.
"Haar ID-boekie, 'n bietjie kleingeld en haar sakdoek het hy langs haar opgetel en dit later aan my ma gestuur. In 'n bygaande brief het hy geskryf Ria se gesigsuitdrukking was 'gelukkig, soos 'n engel s'n', en 'soos iemand wat volkome vrede met haarself gehad het'," vertel Roux.
"Sy is kort daarna in die begraafplaas in Riversdal begrawe waar haar graf steeds is."
Roux sê sy suster het daarna in vrede gerus tot in 1973, toe 'n man van Cradock, ene mnr. Leonard Fraser en sy vrou, Catherine, glo " 'n beeldskone meisie met 'n lang, deurskynende wit rok wat duimgooi langs die pad" naby die plek waar sy verongeluk het, gesien het. Sy het glo, toe hulle wou stilhou om haar op te laai, "in die niet verdwyn".
"Toe ons weer hoor, was die storie op 'n radiogeselsprogram. Daarna het almal haar glo kort-kort 'teëgekom'.
"Soos die ou wat haar kastig op sy motorfiets opgelaai het. Ook twak. Ria sou in haar lewe nooit op 'n motorfiets geklim het nie, sy was te konserwatief daarvoor. Beslis ook nie duimgooi nie, ons is nie so grootgemaak nie.
"Maar só gaan dit nou al 35 jaar met die een bogstorie ná die ander. Intussen moet ons familie dit verduur en word die seer jaar ná jaar weer oopgeruk.
"Mense moet weet, Ria was 'n gelukkige meisie en sy was 'n meelewende mens. Sy was lief vir grappies, mal oor musiek, het gehou van diere, en sy het 'n borrelende persoonlikheid gehad.
"As Ria daar waar sy nou in die hemel is na al die ape en hul swaap-spookstories oor haar hier op die aarde kyk, glo ek sy lag haar 'n papie. Sy was so 'n soort mens."