News24

Saambou- betaling voor Kersfees

2011-11-23 08:18
Johannesburg. – Nege jaar nadat Saambou Holdings onder kuratorskap geplaas is, gaan aandeelhouers ’n finale uitbetaling van 4,53c per aandeel kry.

Saambou is in 2002 in kuratorskap geplaas nadat kliënte binne twee dae R1 miljard onttrek het en is in 2006 gelikwideer.

Toe Saambou in kuratorskap geplaas is, was hy op ses na die grootste bank in die land.

Die likwidateurs, Westrust, het gister op die elektroniese nuusdiens Sens aangekondig dat daar ’n oorskot van R7,568 miljoen aan aandeelhouers uitbetaal sal word. Dit kom neer op 4,53c per aandeel. Toe sy notering opgeskort is nadat hy in kuratorskap geplaas is, het sy aandele teen 203c stuk verhandel.

Aandeelhouers wat in April in die aandeelhouersregister geregistreer was, sal in aanmerking kom vir die uitbetaling, lui die verklaring. Die betaling sal op 9 Desember gedoen word.

Die likwidateurs sê die uitbetaling kan gedoen word nadat die finale likwidasie- en verspreidingsrekening deur die meester van die hooggeregshof bekragtig is.

Luidens die verklaring is geen besware teen die eerste likwidasie- en verspreidingsrekening ingedien nie en die uitbetalings kan derhalwe gedoen word.

Die likwidateurs raai aandeelhouers aan om met hul adviseurs in verbinding te tree rakende die belastingimplikasies van die uitbetaling.

Die aandeelhouers word ook aangeraai om die sentrale verrekeningshuis Computershare of die likwidateurs in kennis te stel as hulle intussen van adres verander het, anders sal die betaling nie gedoen kan word nie.

Die JSE sal nou die nodige stappe doen om Saambou se notering te beëindig.