News24

‘Pluimprinse’ met tye boeiend

2010-08-07 06:00 PLUIMPRINSE deur Malene Breytenbach. Tafelberg. Sagteband. R180.

MALENE BREYTENBACH se tweede roman, Pluimprinse, vertel die verhaal van Olivia Bailey wat, nadat sy in haar huis in Muizenberg, Kaapstad, aangeval en byna verkrag is, besluit om tydelik haar loopbaan as joernalis op te skort en haar Joodse ouma, wat sy nog nooit ontmoet het nie, op Oudtshoorn te gaan opsoek.

Olivia se ma het jare vantevore sonder haar grootouers se toestemming met ’n nie-Joodse man weggeloop en alle bande met haar ouerhuis verbreek. Spoedig raak Olivia verweef in die verhaal van Sarah, haar oumagrootjie, wat net soos haar eie ma ook met die “verkeerde” man deurmekaar geraak het – een van die ryk Le Riche-mans en ’n ware losbol wat byna Sarah se lewe verwoes.

Die leser maak deur die oë van die hoofkarakter kennis met die huidige Oudtshoorn, sowel as die dorp se vervloë glorieryke era van volstruismiljoenêrs en hul pragtige herehuise. Terselfdertyd kry die leser ’n blik op die eertydse Joodse gemeenskap van die dorp wat hoofsaaklik in volstruisvere handel gedryf het, asook met hul eiesoortige kulturele probleme en geskiedenis van vervolging.

Net soos die volstruisbedryf lank al nie meer op die kruin van sukses beweeg nie, het daar ook ’n sosiaal-kulturele paradigmaverskuiwing op die dorp plaasgevind.

Die voorheen gesiene Le Riche-familie moet meet en pas om te oorleef en die front van welvaart te bly voorhou; van die lewendige Joodse gemeenskap van ’n eeu tevore is nog net ’n paar bejaarde nasate oor; die grense tussen meester en kneg is afgebreek; kortom, die hele verhaal spreek daarvan niks in die lewe duur ooit onveranderd voort nie, hetsy welvaart of onreg.

Parallel met Olivia se verhaal loop dié van haar grootouma Sarah. Net soos Sarah raak Olivia se lewe vervleg met dié van een van die Le Riche-mans wat reeds oor geslagte heen vir hul losbandigheid bekend is, selfs oor die kleurgrens heen.

Sy raak geleidelik ingeburger in die dorp se gemeenskap terwyl sy terselfdertyd met die ware, soms ontnugterende, feite van haar voorsate gekonfronteer word. Hierdie openbarings bring by haar nuwe insigte, en eindelik ook vrede, teweeg. Die veelvlakkige verhaal van verval, agteruitgang, verandering en vernietiging word ten slotte een van aanvaarding en nuwe vooruitsigte.

Enkele aspekte in die roman versteur in ’n mate die verloop van ’n sterk verhaal met ’n baie interessante tydperk in ons land se geskiedenis as agtergrond. Heeltemal te veel onnodige feitelike inligting word in die verhaal vervleg. Hoewel van die inligting nodig is om die agtergrond te ondersteun raak dit soms hinderlik.

Só, byvoorbeeld, raak die soveelste verwysing na die argitekte van die pluimpaleise, Visseboxse en Bullocks, later net irriterend. Wanneer Rebekah se vriendin begrawe word, word die atmosfeer tot ’n mate versteur deur te veel inligting oor die Joodse gebruike rondom begrafnisse.

Verder is dit ook nie duidelik hoekom Olivia nou juis een blou oog en een groen oog – ’n aspek wat telkemale in die verhaal opgehaal word – moet hê nie. Dit dui nooit op ’n moontlike verskuilde voorsaat met dieselfde genetiese eienskap nie en daar word net telkens daarna verwys wanneer iemand dit opmerk.

Die weglating van sommige van hierdie en baie ander onnodige inligting sou die verhaal, wat reeds ’n interessante tema en geloofwaardige karakters bevat, baie vlotter laat verloop het.

Nogtans is Pluimprinse bevredigende en met tye boeiende leesstof oor die Oudtshoorn van weleer en vandag.–