News24

Gebou vertel verhaal van die verlede

2011-07-27 17:06 PHILIPPOLIS. – Daar is min geboue op die platteland wat so ’n klinkklare spieëlbeeld bied van die Suid-Afrikaanse geskiedenis oor die afgelope eeu as die gebou waarin die Foodzone-winkel op Philippolis gehuisves word.

’n Oorweging waarom dié winkel winkel geword het in die dae toe die Nasionale Party opgang gemaak het, was ’n groepie Afrikaners wat wou keer dat die Engelse en Joodse handelaars ryk word uit hul geld. En vandaar die naam “Ons Dien”.

Dié was ook die leuse van die Hoërskool M.T. Steyn en kan sekerlik gesien word as ’n aanduiding van wie beheer op die dorp gehad het in dié stadium. Ook hoe die skool, kerk en handel se sfere oorvleuel het.

Maar die gebou waarin Ons Dien gehuisves is, se geskiedenis strek verder terug. As jy in Voortrekkerstraat, die hoofstraat, staan, is die regterkantste spitsdak deel van die saal waarin Emily Hobhouse haar eerste spin-en-weefskool in Suid-Afrika geopen het. Dit was in 1905 net ná die Anglo-Boereoorlog. Só wou dié Engelse vrou die Boere help ophef.

Daar word vertel die Boere het Hobhouse van merinowol en sybokhaar voorsien. Sy het natuurlike kleurstowwe gebruik, soos besembos vir ’n diep rooskleur en perskeblare vir liggeel.

Daar het al langs Voortrekkerstraat (toe nog Kerkstraat, want dit was voor die herdenking van die Groot Trek in 1938) ’n leiwatervoor geloop. Maar dié was kort-kort droog. Water was noodsaaklik en boonop was Philippolis ver van die markte. Só het Hobhouse se opheffing hier ’n stadige dood gesterf.

In die jare wat kom, sou dié spin-en-weef-saal dien as huis en groter vensters is ingesit. Maar die basiese struktuur het dieselfde gebly en die dik plafonbalke (dalk geelhout) getuig van die tyd toe hout nog goedkoop was. Dié kosbare plafonbalke is later met veselbord toegekap – dalk ’n genade, want só is dit bewaar totdat dit enkele jare gelede herontdek is.

Die stigters van Ons Dien het destyds geglimlag, want hul eend het goue eiers gelê. Wolpryse het die hoogte in geskiet en dit sou die beste in dié geweste nog gaan.

Tant ?Baby ?Fourie, ’n boervrou, ?het ?graag ?vertel ?jy kon by ?Ons ?Dien ?kies van ’n magdom balpuntpenne tot swart manelpakke. Jy kon selfs kiekies hier laat ontwikkel en ’n verbleikte Kodak-teken het tot in onlangse jare nog op ’n venster gepryk.

Maar van die Philippolisers uit daardie jare het niemand oorgebly nie en só het die geskiedenis ook grootliks vergaan.

Ek is in 1973 gebore, ’n jaar nadat die N1 geopen is. Die hoofroete tussen Kaapland en Transvaal sou voortaan digby die nuwe Gariepdam verbygaan. Die pad van Colesberg oor Philippolis na Trompsburg was skielik doodstil en Ons Dien, nes die res van Philippolis, het getaan.

My herinnerings aan Ons Dien gaan omtrent 30 jaar terug. In 1980 was ek in sub A by die einste skool met die leuse “Ek Dien”.

Aan wie Ons Dien toe behoort het, kan ek nie onthou nie, maar ek weet my ma, Naómi, het nie in daardie jare daar gekoop nie.

Sy het Voorspoed, die enigste ander algemene handelaar, verkies. Voorspoed was oorkant die NG kerk en sou in later jare die Gemeentesentrum word. Dié winkel het behoort aan ’n mnr. Vermeulen. Sy kleindogter, Vanessa Bell, was toevallig saam met my in die klas.

Vermeulen het in die vroeë 1980’s Ons Dien gekoop en ek onthou daar was nogal ontsteltenis op die dorp toe hy dit herdoop het na Rudi’s – ’n verwysing na sy seun.

Soos elders het Rudi’s twee deure gehad. By die nie-blankes se afdeling was die rakke tot teen die dak volgepak en hulle sou vir ’n werker aan die ander kant van die toonbank wys wat hy vir hulle moes afhaal.

Die blankes kon self artikels van die rakke haal en as jy nie lus was om winkel toe te gaan nie, kon jy bel en jou goed is dan per fiets afgelewer.

Die trein het daagliks nog geloop van Springfontein na Koffiefontein en Ons Dien se ware is by Philippolis Weg afgelewer. Dit was grootliks verbode vir handelaars om goedere aan te ry met vragmotors en dit was dan ook ’n rede waarom die paaie nie so vol slaggate was nie.

Vir baie jare was tannie Pauline van Ryneveld ’n voorslag in die winkel. Sy het die “till” (kasregister wou nooit posvat nie) geslaan en het geweet hoe werk ’n winkel, want die Van Rynevelds het vroeër ’n soortgelyke algemene handelaar op die dorp gehad.

En later was Annette Loock ewe bekwaam toe tannie Pauline en oom Frikkie op Hartenbos gaan aftree het.

Dit was omtrent in dié tyd toe Chris en Lola Oelofse Rudi’s oorgeneem het en die winkel weer Ons Dien gedoop het – ’n wyse besluit, want hiervan het die klante gehou.

Vir omtrent twee dekades sou die Oelofses hier arbei. Ek onthou goed hoe Chris (toe was hy burgemeester van die dorp) opgemerk het hoe erg dit vir hom as winkelier is dat die meelprys voortdurend styg. “Ek weet nie wat eet die mense meer nie. Hulle kom met soveel geld die winkel in as wat ’n sak meel die vorige keer gekos het, maar dan is dit hopeloos te min.”

Ons was toe al goed die nuwe Suid-Afrika in en die “till”-vrouens het bruin mense geword.

Rondom 2005 het die Oelofses verkoop en Ewald Fourie en sy vennote het die nuwe eienaars geword.

Fourie het die kruidenierswarerakke verskuif en die uitleg van die winkel verander. Die klere-afdeling is gesluit, ’n bakkery is begin wat heerlike vetkoeke gemaak het, en in die deel waar Emily Hobhouse haar spin-en-weef-skool begin het, het hy ’n restaurant, Ant Emily’s, begin.

Maar ’n jaar of twee later het die noodlot toegeslaan. Fourie se bakkie het gerol en hy kon nie die onderneming verder bestuur nie.

Sy vennote het met die winkel voortgegaan en Elsa Lombard en Nauda Cilliers het ’n koffiewinkel/restaurant in Ant Emily’s bedryf.

’n Jaar of wat later het Kent en Elbie Foster Ons Dien gekoop en só het dit ’n Foodzone-tak geword.

Dis ’n ope vraag hoe veranderinge oor die jare wat kom in Suid-Afrika dié instelling in Philippolis gaan beïnvloed.