News24

Hof hoor hoe toordokter boer se liggaamsdele kook

2013-03-19 05:50
’n SELFERKENDE toordokter van Lesotho was besig om liggaamsdele van ’n boer van Vierfontein, wat hy na bewering vermoor het, gaar te maak toe hy in hegtenis geneem is, beweer die staat in die Vrystaatse hooggeregshof.

Die verhoor van Moeketsi Hopolong Mokoena (34) is gister voor regter A. Kruger tot 22 April uitgestel.

Luidens ’n aanhangsel tot die klagstaat teen hom was liggaamsdele van Jan van Wyk (82) van die plaas Jakkalsfontein, wie se lyk erg geskend was, in ’n pan in sy plaashuis waar Mokoena besig was om dit gaar te maak toe hy in hegtenis geneem is.

Sy beweerde moordtog het glo begin toe hy die aand van 30 Maart 2009 vir Basie Venter (65) van die plaas Biesiesvlei voor sy vrou se oë buite hul plaashuis doodgeslaan het.

Die staat beweer hy het op dié plaas aangekom en vir kos gevra. Terwyl Mary Venter besig was om vir hom kos te maak, het sy die honde gehoor blaf.

Sy het gesien hoe Mokoena haar man met ’n stuk yster slaan.

Van die Venters se plaaswerkers het daar opgedaag en Mokoena begin jaag.

Hy het hulle in die donker ontglip.

Venter is dood van die houe teen sy bors.

Die staat sê veiligheidswagte wat die volgende dag na Mokoena gesoek het, is gevra om na Van Wyk se plaas te gaan. Dit is twee plase verby en sowat 5 km verder.

Van Wyk het nie gereageer toe ’n vriend vroeër op sy plaas was en na hom geroep het nie.

Die staat sê toe hulle op die plaas opdaag, het Mokoena homself op die stoep tuisgemaak.

Hy het net ’n hemp en onderklere aangehad. Sy bene was bebloed.

Hy het in die huis ingehardloop en die deur toegemaak.

Toe die wagte die deur oopkry, het hy hulle aangeval. Hulle het hom oorrompel en in bedwang gebring.

Van Wyk se huis was erg deurmekaar en met bloed besmeer.

Sy erg geskende lyk is in die sitkamer gekry. Hy is dood aan ’n snywond aan sy nek.

Van sy liggaamsdele is in ’n pan gekry waar Mokoena besig was om dit gaar te maak, beweer die staat.

Mokoena is ’n jaar ná dié moorde tot pasiënt van die staatspresident verklaar.

Die staat beweer dat hy nou, ná suksesvolle behandeling, verhoorbaar is.

Adv. Marius Strauss het gister aangekla. adv. Lawrence Tshabalala tree vir Mokoena op.