Plaaslike owerhede en die Ingenieursraad van Suid-Afrika (Ecsa) sal waarskynlik betrokke raak by die ondersoek na die ineenstorting van die Neo Victoria-woonstelgebou Maandag in George.
“Dit is noodsaaklik om die oorsaak van die ineenstorting te bepaal en te voorkom dat dit met ander strukture gebeur,” het prof. Gideon van Zijl van die departement siviele ingenieurswese van die Universiteit Stellenbosch (US) Dinsdag gesê. Hy is ’n kenner van strukturele ingenieurswese wat navorsing lei oor die ontwikkeling van sement-gebaseerde konstruksiemateriale en strukture.
“As en wanneer die oorsaak, of die kombinasie van omstandighede wat dit veroorsaak het, geïdentifiseer word, is ’n vraag wat hulle hulself afvra of die ontwerp- of konstruksie-ingenieur redelik opgetree het in die uitvoering van hul professionele plig.