Ragfyn gordyne van ’n allemintige R285 000 wat in ’n onbewoonde ampswoning hang, was een van die opspraakwekkendste bevindings uit ’n verslag rakende die stand van sake by Unisa wat in Mei vanjaar met die publiek gedeel is.
Weens die ooglopende buitensporige uitgawe wat die openbare universiteit met staatsgeld vereffen het, wou prof. Themba Mosia, die onafhanklike assessor, die gordyne se gehalte van naderby beskou.
Dr. Blade Nzimande, die minister van die departement van hoër onderwys, tegnologie en innovasie, het Mosia in 2022 gelas om ondersoek in te stel na beweerde ongerymdhede en kommer oor die oënskynlike agteruitgang van dié instelling.