Deel

Wat Netwerk24 en News24 se onafhanklike watertoetse onthul

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Stede se water is oor die algemeen van beter gehalte as dié van plattelandse gebiede.
Stede se water is oor die algemeen van beter gehalte as dié van plattelandse gebiede.

Kortliks:

• Die Bloudruppelverslag, die staat se evaluering van die land se drinkwater, is laat.

• Maar die afgelope maand het ons ons eie onafhanklike watertoetse gedoen op plekke in Johannesburg, Kaapstad, Durban, Pretoria, Gqeberha en Bloemfontein.

• Ons het vasgestel dat die drinkwater in die krane van dié stede (waar ons getoets het) oor die algemeen veilig en skoon is – en dikwels van ’n hoë gehalte.

• Daar het wel rooi ligte geflikker op van die plekke in Kaapstad en Bloemfontein waar ons getoets het, en daar was wisselvalligheid op die plek in Gqeberha waar ons toetse gedoen het.

• In die Gautengse stede en in Durban lyk die situasie baie goed.

Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het vroeg in Junie ’n “tussentydse” blik op die land se waterinfrastruktuur uitgereik en gesê die volledige oudit van die waterstelsel, die sogenaamde Bloudruppelverslag, sou in Julie gereed wees.

Daardie dokument – waarin aangedui word of ingryping nodig is waar mense gesondheidsrisiko’s kan ervaar weens die water wat hulle drink – is nog nie uitgereik nie. Hierdie week het die departement van water en sanitasie aan ons gesê dit gaan nou eers voor einde September uitgereik word, deels weens beurtkrag.

Maar sedert Junie het Netwerk24 en News24 watermonsters in die land se grootste stede geneem om die gehalte van die drinkwater onafhanklik te laat toets.

Met finansiering van Waarheid Eerste, ’n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder, en die hulp van ’n sentrale laboratorium en ’n netwerk van satelliet-laboratoriums oor die land heen het ons weekliks monsters van een kraan in elke stad laat toets vir die belangrikste standaard-aanwysers van biologiese of chemiese probleme wat kan voorkom.

Ons resultate tot dusver is uiters gerusstellend vir stedelinge, maar in skerp teenstelling met die algemene nasionale situasie.

Die tussentydse Bloudruppelverslag vir 2023 het ’n droewige prentjie geskets van die gehalte van Suid-Afrika se drinkwater. Van die 151 waterstelsels wat getoets is, het 71% nie voldoen aan die chemiese standaarde nie, en vir 51% is swak mikrobiologiese bevindings gemaak.

* DIEPTE-ONDERSOEK | Dís wat in die water is

Van die water wat getoets is, was eenvoudig gevaarlik, iets wat nie verbasend is nie ná ’n onlangse dodelike uitbreking van cholera, ’n siekte wat regstreeks verband hou met die gehalte van water.

Maar terwyl die waterstelsels op plekke soos Hammanskraal en Parys so verval het dat dit tot lewensverliese lei, het ons eie toetse daarop gedui dat die water in stede oor die algemeen veilig is om te drink, en in baie gevalle deurlopend van ’n baie hoë gehalte is.

Ons joernaliste het monsters geneem van krane wat water regstreeks van die munisipaliteit kry waar hulle woon of naby aan hul woning, en elke monster is aangeteken. Daardie monsters is deur gesertifiseerde laboratoriums getoets wat ’n benadering volg wat as die nasionale standaard aanvaar word. Ons het nie die plaaslike munisipaliteite of die departement van water en sanitasie ingelig dat ons die water toets nie.

Sekere dele van Bloemfontein kry hul water van die Mangaung-metro, terwyl ander dit van Bloem Water kry. Ons het water getoets in krane wat aan elkeen van dié stelsels gekoppel is. In die ander stede het ons die water getoets wat deur die metro’s verskaf word.

Dít is wat ons tot nou toe bevind het

Daar is geen risiko van die bakterie Vibrio cholerae, wat cholera veroorsaak, of enige ander bakterie in die water van die stede wat ons getoets het nie.

Oor die maand wat ons getoets het, het ons koliforme bakterieë, ’n breë kategorie van bakterieë, in net een monster gevind wat in Kaapstad geneem is. En selfs in daardie monster was dit op ’n vlak wat as veilig vir drinkwater beskou word. Intussen sê die Kaapstad-metro die monsters wat hy oor die afgelope 12 maande geneem het, is skoon daarvan.

Ons resultate wys daar is geen fekale kontaminasie in enige van die waterstelsels wat getoets is nie, en daar is dus geen risiko van iets soos cholera nie.

Daar is geen risiko van die bakterie wat cholera veroorsaak, of enige ander bakterieë in die water van die stede waar ons toetse gedoen het nie. Foto: Alet Pretorius

Ons het nêrens enige teken van die gevreesde bakterie E. coli gevind nie.

Dit beteken in die relatief gegoede buurte van die ses stede waar ons getoets het, is dit onnodig om drinkwater voor gebruik te kook en is daar geen rede om te vrees dat jy sal siek word van die water nie.

Wat die chemiese vlakke betref, lyk die water in al ses stede goed.

Ons het vasgestel dat die water in die krane van elke stad voldoen aan die standaarde vir die hoeveelheid chloor daarin, die vlak van opgeloste soute, asook die pH-waarde.

Hier en daar was daar effense wisselvalligheid in die chemiese samestelling, veral in Bloemfontein, wat kan dui op toekomstige probleme as die water nie konsekwent behandel word nie, of as die onverwerkte water wat gebruik word, wisselvallig is om mee te begin.

Maar soos sake nou staan, was al ons monsters binne die aanvaarbare chemiese vlakke vir water wat veilig is om te drink.

Net Johannesburg en Durban het elke toets vir troebelheid geslaag. In Bloemfontein en Kaapstad was daar probleme.

Troebelheid dui op hoe die water lyk – letterlik hoe helder dit is. Dit is nie op sigself ’n ernstige kwessie nie, sê die kenners, maar troebelheid is om twee belangrike redes ’n sleutelmeting: Dit kan dui op probleme iewers met die behandeling van die water wat ondersoek moet word, en dit kan mense huiwerig maak om die water te drink.

Hulle kan dan dalk besluit om eerder minder veilige water te gebruik of baie geld bestee om ander water te kry.

In ons monsters was net Johannesburg en Durban se water deur die bank op ’n aanvaarbare vlak wat troebelheid betref. Water in Kaapstad en in een deel van Bloemfontein het baie swak gevaar.

* VERTEL ONS | Vertel ons van die water in jou buurt

Troebelheid word gemeet in nefelometriese troebelheidseenhede, of NTU’s. Ingevolge Suid-Afrikaanse standaarde is ’n telling van 1 NTU aanvaarbaar.

Die water in ons kraan in Durban het nooit meer as 0,6 gemeet nie en in Johannesburg was die maksimum 0,63.

In Kaapstad was die hoogste meting tot dusver 2,1, en twee keer was dit nader aan 5. (Die Kaapstad-metro sê sy eie watertoetse wys geen tekens van troebelheid nie; sien hieronder.)

In Bloemfontein het die water wat deur die Mangaung-metro verskaf word, ’n maksimum van 5,45 in ons toetskraan gemeet, maar daar was ook ’n monster wat net die volgende week 1,16 gemeet het.

By die toetspunt in Gqeberha was die meting een keer 1,48 en in Pretoria was dit twee keer meer as 1, maar nooit meer as 1,19 nie.

Wat die owerhede aan ons gesê het

In antwoord op ons vrae het die departement van water en sanitasie gesê die volledige Bloudruppelverslag sal eers in September verskyn weens “modereringsprosesse”.

In die bevestiging- en modereringsproses kry waterdiensinstellings ’n laaste geleentheid om verdere bewyse te verskaf wat dalk nie beskikbaar was tydens die oudit nie en wat hul tellings kan raak.

Daardie inligting en data word geverifieer en ’n finale vergadering word met die instellings gehou om te bevestig of die inligting aanvaar is en om terugvoering te gee oor die ouditresultate.

Dit is belangrike stappe omdat dit dien as ’n gehaltebeheermaatreël om die akkuraatheid van verslagdoening te verseker en ook dat die resultate geloofwaardig is.

Van die probleme wat die departement uitgelig het, was dat beurtkrag aanlyn vergaderings ontwrig het, munisipale amptenare nie beskikbaar is nie en dat water-amptenare gespartel het om die uitbrekings van cholera te hanteer.

Dat stede beter gevaar het wat betref die gehalte van water as die meer plattelandse gebiede, kan dikwels toegeskryf word aan geld, het die departement gesê. Stede het ’n groter inkomstebasis en slaag beter daarin om geld in te samel, hulle bestee meer aan instandhouding en die betaling van noodsaaklike personeel en hulle het groter toegang tot toetslaboratoriums.

Bloem Water het meer besonderhede oor ons toetse gevra, maar het teen publikasie nie gereageer op ons vrae oor die troebelheid van die water en die wisselvallighede met chemiese stowwe nie.

Nie een van die ander waterverskaffers wat ons gekontak het, het ons vrae beantwoord nie, buiten die Kaapstad-metro, wat gesê het hy kan nie regstreeks op ons resultate reageer nie, maar “historiese resultate het gewys ons water is veilig vir drink en gebruik”.

Wat die troebelheid van die water betref, het Kaapstad gesê hy voldoen in die afgelope 12 maande meer as 99% aan die estetiese standaarde en op bedryfsvlak is sy voldoening aan troebelheidstandaarde 97%, wat die 95% oorskry wat as uitstekend beskou word. – Bykomende beriggewing deur Alex Mitchley, Cara-Lee Scheun, Cheréne Pienaar, Kaveel Singh en Sheldon Morais.

• Hierdie ondersoekende artikel is gedoen in samewerking met Waarheid Eerste, ’n maatskappy sonder winsbejag wat ondersoekende joernalistiek bevorder. 

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.76
+1.4%
Rand - Pond
23.43
+0.3%
Rand - Euro
20.08
+0.2%
Rand - Aus dollar
12.25
+0.3%
Rand - Jen
0.12
+0.2%
Platinum
924.10
-0.0%
Palladium
959.00
+0.1%
Goud
2,337.68
0.0%
Silwer
27.19
-0.0%
Brent-ruolie
89.50
+0.6%
Top-40
69,358
+1.3%
Alle aandele
75,371
+1.4%
Hulpbronne 10
62,363
+0.4%
Industriële 25
103,903
+1.3%
Finansiële 15
16,161
+2.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos