’n Watergehaltespesialis wat die afgelope vyf jaar elke munisipale rioolaanleg langs die Oranje- en Laer Vaalrivier besoek en watermonsters geneem en ontleed het, is oortuig daarvan dat cholera reeds baie meer lewens geëis het as wat amptelik bevestig is.
Die nasionale departement van gesondheid het verlede Vrydag bevestig dat 32 mense die afgelope weke in Gauteng, die Vrystaat en Noordwes aan cholera dood is. Die eerste gevalle is in Hammanskraal, noord van Pretoria, aangemeld.
Fritz Bekker, watergehaltespesialis wat namens die Gariep Watch-nieregeringsorganisasie die chemiese, bakteriese en biologiese watergehalte in die betrokke riviere monitor, dink die situasie is veel erger as wat die departement besef. Cholera beweeg vinnig en ver met riviere af.